AfriForum verlig Knysna-tuinvullispyn, verwyder 1 050 sakke tuinvullis binne twee dae
AfriForum het verlede week ingespring om inwoners van Knysna se tuinvullis gratis te verwyder ná die Knysna Munisipaliteit uit die bloute aangekondig het dat die verwydering van tuinvullis met onmiddellike effek gestaak is. AfriForum se Eden-buurtspan het te midde van verwarring en frustrasie wat onder inwoners hieroor geheers het, binne twee dae 1 050 sakke tuinvullis gratis verwyder en gaan nou voortaan ook dié noodsaaklike diens teen betaling aan inwoners bied.
Marthinus Erasmus, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Suid-Kaap, sê die munisipaliteit is by regte om só ’n besluit te neem, maar dat dit inwoners onkant gevang het. “Die besluit om die verwydering van tuinvullis te staak, is kortsigtig en heeltemal ondeurdag. Inwoners word genoodsaak om nou skielik oplossings te vind vir ’n diens waarvoor hulle reeds betaal, en dit sonder enige vooraf waarskuwing. Dit is onregverdig om ’n diens waarop inwoners staatgemaak het, so skielik te staak en dan nog boonop aan te hou om geld in te vorder daarvoor,” verduidelik hy.
Ander munisipaliteite in die omgewing maak tans voorsiening vir drie tot sewe swartsakke tuinvullis per huis per week en een bondel takke van korter as een meter. Inwoners van Knysna en Sedgefield is egter nou genoop om self na een van twee vullisterreine te ry om hul tuinvullis daar te gaan aflaai.

“Die probleem is dat Knysna se vullisterrein besonder gevaarlik is. Daar was al gewapende rowe en aanrandings op die terrein. Die toegangspad is boonop in ’n baie slegte toestand en ’n mens het ’n bakkie of 4×4-voertuig nodig om dié pad aan te durf. Sedgefield se terrein is beter, maar daar was ook al gevalle waar voertuie se bande op die terrein afgeskryf is,” verduidelik Erasmus.
AfriForum het reeds verlede Desember ’n herwinningsdiens in Knysna en Sedgefield van stapel gestuur, maar het ná die munisipaliteit se aankondiging dié diens uitgebrei om ook die verwydering van tuinvullis in te sluit.
“Toe ons eers begin tuinvullis wegry, het die versoeke om hulp ingestroom. By sommige huise was daar reeds twee weke se tuinvullis opgehoop en sekere inwoners het nie ’n idee gehad dat die munisipaliteit die verwydering van tuinvullis gestaak het nie. Ons het reeds omtrent 1 500 sakke tuinvullis weggery,” sê Erasmus.
AfriForum se tuinvullisdiens kos R160 per maand (of R200 as ’n wieldrom ingesluit word). AfriForum laai weekliks tot vier sakke per kliënt op en enige verdere vullis word teen R10 per sak verwyder. ’n Sleepwavrag tuinvullis kan teen R500 per vrag weggery word.
“AfriForum is nie verbaas oor hierdie mislukte dienslewering nie. Dit is om redes soos hierdie dat AfriForum volstoom bou aan buurtspanne en die vestiging van ons eie vermoë sodat ons in staat is om vir die beswil van die gemeenskap in te tree wanneer regeringsvermoë en -dienslewering verbrokkel,” sluit Erasmus af.
Om by die diens in te skakel of meer daaroor uit te vind kontak Erasmus by 081 216 9602 of marthinus.erasmus@afriforum.co.za.



