Weinig gedoen aan lekkasies wat Polokwane-waterprobleme vererger, maar AfriForum help só
Terwyl die Polokwane Plaaslike Munisipaliteit besig is om sy waterstelsels uit te brei om aan die behoeftes van ’n groeiende stad te voldoen, gaan soveel as 36% van water verlore weens lekkasies. AfriForum wil egter dié blindekol in die sisteem help pak sodat Polokwane nie só gebuk gaan onder ernstige wateronderbrekings nie.
Die burgerregteorganisasie het onlangs ’n platform van stapel gestuur waar inwoners waterlekkasies in Polokwane aan AfriForum kan rapporteer. Die burgerregteorganisasie gaan dié aanmeldings direk met die munisipaliteit opneem om herstelwerk te bewerkstellig.
Ondanks die toename in waterlekkasies, wat toevoer na buurte negatief beïnvloed, word Polokwane ook met talle ander waterprobleme gekonfronteer. Gereelde kragonderbrekings veroorsaak dat waterbronne soos die Olifantspoort- en Ebenezer-waterwerke nie doeltreffend funksioneer nie. Dit het gelei tot uiterse lae reservoirvlakke, wat veroorsaak dat baie gebiede vir lang periodes sonder water sit.
AfriForum het reeds benadruk hoe noodsaaklik dit is om daadwerklik op te tree om dié krisisse die hoof te bied. Ondanks verskeie skrywes aan die munisipaliteit en die waterverskaffer Lepelle Northern Water, waar AfriForum se hulp aangebied is om aandag aan probleme soos waterlekke te gee, word weinig gedoen.
“Hierdie gebrek aan betrokkenheid en onbereidwilligheid om gesamentlike oplossings te vind, beklemtoon die munisipaliteit se oënskynlike onverskilligheid oor die lot van sy inwoners,” meen Hendrik Kotzé, AfriForum se provinsiale koördineerder vir Limpopo.
Die finansiële impak van die waterkrisis is beduidend. Die ouditeur-generaal het ’n groot verlies van R87 miljoen weens waterlekke in die 2023/2024-boekjaar aangeteken. Hierdie verlies benadeel nie net die munisipaliteit se hulpbronne nie, maar ontneem dit ook van inkomste wat vir broodnodige opknappings aan infrastruktuur gebruik kan word.
Om die waterkrisis doeltreffend die hoof te bied, moet die munisipaliteit ’n meer proaktiewe benadering volg. Dit sluit in samewerking met organisasies soos AfriForum wat hul kundigheid en hulpbronne beskikbaar kan stel. Verder kan die prioritisering van herstelwerk aan infrastruktuur en die implementering van doeltreffende waterbestuurstrategieë help om verliese te verminder en meer betroubare toevoer te verseker.
“Die voortslepende waterkrisis in Polokwane dien as ’n skerp herinnering dat doeltreffende bestuur en samewerking noodsaaklik is om die mees basiese menslike behoeftes te bevredig. AfriForum gaan egter nie terugstaan en toekyk hoe die gebrekkige bestuur van hierdie waterbron menselewens negatief beïnvloed nie, daarom moedig die burgerregteorganisasie inwoners aan om waterlekkasies aan te meld,” sluit Kotzé af.
Klik hier om waterlekkasies in Polokwane aan te meld.