|

Wanfunksionele ANC-geleide munisipaliteit in Vrystaat uiteindelik aanspreeklik gehou vir R1 miljard se waterskuld

Klankgreep: Marais de Vaal (Afrikaans)
Klankgreep: Marais de Vaal (Engels)

Munisipale bestuurders oor die land heen kan nie langer agter ’n munisipaliteit se bankrotskap wegkruip om aanspreeklikheid vir wanbestuur en die oppergesag van die reg te ontduik nie. Dít is die presedent wat geskep is deur die Vrystaatse Hooggeregshof se mylpaaluitspraak wat die wanfunksionele Maluti-a-Phofung Plaaslike Munisipaliteit gelas het om meer as R1 miljard, wat aan die departement van Water en Sanitasie verskuldig is, terug te betaal, sê AfriForum.

Dit is beduidend dat die hof beslis het dat die munisipale bestuurder persoonlik aanspreeklik gehou sal word indien die munisipaliteit versuim om aan die hofbevel te voldoen. Deel 1 van dié bevel behels ’n afbetalingsplan wat bepaal dat 11% van die Maluti-a-Phofung-munisipaliteit se billike aandeeltoekenning gereserveer moet word vir terugbetaling van die skuld. Indien die munisipaliteit nie hierdie plan nakom nie, sal die munisipale bestuurder volgens deel 2 van die hofbevel persoonlik aanspreeklik gehou word.  Volgens AfriForum moes die presedent van persoonlike aanspreeklikheid lankal gebeur het. Gemeenskappe oor die land heen het reeds te lank onder die gevolge van mislukte munisipale bestuur gely terwyl diegene wat verantwoordelik is, ongeskonde weggestap het. Hierdie uitspraak maak dit duidelik dat die gereg nou individue sal agternasit wat dienslewering en finansiële stabiliteit ondermyn.

“Munisipale bestuurders moet weet dat hulle die gevolge sal dra wanneer hulle hulpbronne verkwis en dienslewering belemmer,” sê Marais de Vaal, AfriForum se raadgewer vir Omgewingsake.

Hierdie saak beklemtoon ook die omvang van die gebrek aan funksionering binne plaaslike regering. Die skuld was dekades in wording as gevolg van die ineenstorting van faktureringstelsels, gebrekkige invorderings en ongekontroleerde, onreëlmatige uitgawes. Die nasionale regering het toegelaat dat hierdie mislukkings voortduur, terwyl die departement van Water en Sanitasie eers in 2017 die howe genader het. Dit het agt jaar geneem vir aanspreeklikheid om te materialiseer – jare waarin gemeenskappe sonder betroubare dienste gelaat is en hul reg op toegang tot water geskend is.

Terwyl terugbetaling nou uit die munisipaliteit se billike aandeeltoekenning van die Nasionale Tesourie sal kom, beteken dit dat ander noodsaaklike dienste moontlik ondermyn kan word. Weereens is dit gemeenskappe wat die las van munisipale nalatigheid sal dra.

“Geregtigheid het uiteindelik geseëvier in Maluti-a-Phofung. Die regte van gemeenskappe om die dienste te ontvang waarop hulle grondwetlik geregtig is, en selfs daarvoor betaal, is presies waarvoor AfriForum en die burgerlike samelewing veg. Van die onlangse bevel vir provinsiale ingryping in die Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit tot die hof se skrapping van die Tshwane Metropolitaanse Munisipaliteit se onwettige stadsreinigingsheffing, wys al hierdie sake dat wanneer die regering misluk, dit op gemeenskappe neerkom om aanspreeklikheid te eis,” sluit De Vaal af.

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf