Vuurwapens: AfriForum soek deursigtigheid ná bewerings van geheime gesprekke met NEDLAC
Gesprekke rakende moontlike aanpassings aan die Wet op Beheer van Vuurwapens (60 van 2000) by die Nasionale Ekonomiese Ontwikkelings- en Arbeidsraad (NEDLAC) is volgens AfriForum onregmatig en val dit buite dié raad se mandaat. Die organisasie dring aan op deursigtigheid oor die besluite wat gemaak word en die proses wat gevolg word. Dit volg ná bewerings van geheime gesprekvoering om aanpassings aan dié wet te bewerkstellig.
Volgens AfriForum moet hierdie tipe gesprekke verteenwoordigers van die vuurwapenbedryf, sportskietliggame, private sekuriteit en wettige vuurwapeneienaars insluit. Die organisasie meen dat ’n gebrek aan deursigtigheid openbare vertroue knou en dat dit die proses om wysigings voor te stel besmet.
“Vuurwapenregulering is ’n kwessie van openbare veiligheid en grondwetlike regte. Dit het nie te make met arbeidsbeleid nie,” sê Jacques Broodryk, AfriForum se hoofwoordvoerder oor Gemeenskapsveiligheid. “Dit blyk dat die regering vasberade is om wetsgehoorsame vuurwapeneienaars te ontwapen terwyl die werklike probleem van onwettige vuurwapens opsy geskuif word. Die regering se eie Wits-verslag het aangedui dat wettige vuurwapeneienaars nie die probleem is nie, maar dit blyk dat hierdie feite ook ter wille van hul agenda geïgnoreer word.”
Die voorgestelde wysigings, wat na bewering tydens hierdie gesprekke bespreek is, sluit onder meer in die vermindering van vuurwapens in privaatbesit, strenger lisensiëringsvereistes, swaarder beperkings op privaat sekuriteit, asook nuwe berging- en regverdigingsreëls.
AfriForum waarsku dat die regering se uitsluiting van belange groepe in hierdie gesprekke openbare vertroue ondermyn. “Ons sal veg teen enige onredelike wysigings aan vuurwapenwetgewing en elke poging om wetsgehoorsame burgers te ontwapen,” voeg Broodryk by. “As die regering in demokrasie glo moet hierdie geheime gesprekke en onderhandelinge stopgesit word tot belanghebbendes daarby betrek word.”