VSA-tarief is die bitter vrug van ANC-ontkenning, kap AfriForum
President Cyril Ramaphosa en die ANC-geleide regering moet direk verantwoordelik gehou word vir die ernstige negatiewe impak wat die VSA se nuwe handelstariewe op gewone Suid-Afrikaners sal hê, benadruk AfriForum. Volgens die burgerregteorganisasie is die regering se versuim om die VSA se kommer oor menseregteskendings van minderhede in Suid-Afrika die hoof te bied, ’n kritieke faktor in die tariewe wat die land nou opgelê is.
Die regering het nie net die VSA se kommer oor menseregteskendings geïgnoreer nie, dit is selfs telkens ontken. Dit ten spyte van Zane Dangor, direkteur-generaal van die Departement van Internasionale Betrekkinge, se onlangse erkenning dat rasdiskriminerende ANC-beleide soos swart ekonomiese bemagtiging (SEB) ’n ernstige struikelblok vir onderhandelings is.
AfriForum en die Solidariteit Beweging se pogings om met die ANC in gesprek te tree, plaaslike oplossings met die party te beding en sodoende die implementering van die VSA se 30%-tarief op uitvoere uit Suid-Afrika af te weer, is op ’n roekelose wyse deur die ANC gesystap.
Die burgerregteorganisasie het voorts die ANC-geleide regering telkens gewaarsku dat pogings om die VSA se kritiek en kommer valslik af te maak as die gevolg van sogenaamde disinformasie, nie sou slaag nie. AfriForum het ook ’n beroep op die ANC-geleide regering gedoen om eerder daadwerklik op te tree en oplossings te vind vir die brandpunte wat verhoudinge met die VSA gekniehalter het.
“Ons aanbod om hulp en waarskuwings is egter geïgnoreer en nou gaan die land ’n duur prys betaal vir die ANC en die ANC-geleide regering se onverantwoordelike optrede,” verduidelik Ernst van Zyl, hoof van Openbare Betrekkinge by AfriForum.
AfriForum bevestig intussen dat die organisasie sy pogings sal voortsit om oplossings in belang van die land en sy mense te vind. “Die land se gewone burgers verdien nie die straf vir die ANC se wandade nie. Daarom sal ons ons veldtog versnel om die VSA te probeer oortuig om op te tree teen die ANC-politici wat vir dié krisis verantwoordelik is, eerder as die land as geheel. Daar is reeds vordering aan hierdie front,” sluit Van Zyl af.