|

Voortgesette agteruitgang van waterstelsels wys op regering se gebrek aan optrede – AfriForum

Suid-Afrika se waterstelsels oor die hele watervoorsieningsketting verswak al hoe meer. Dít is AfriForum se gevolgtrekking gebaseer op ’n ontleding van die departement van Water en Sanitasie (DWS) se jongste blou-, groen- en geendruppel-verslae.

Die drie verslae, wat vandag deur die DWS vrygestel is, beoordeel verskillende komponente van dieselfde stelsel. Die 2025-groendruppelverslag het rioolwaterbehandeling en die impak van rioolwerke op riviere en die omgewing beoordeel. Die 2026-bloudruppel-vorderingsverslag het drinkwatergehalte geëvalueer en of water wat aan verbruikers voorsien word, veilig vir menslike gebruik is. Die 2025-geendruppel-vorderingsverslag het gefokus op waterverliese, nie-inkomstewater en die doeltreffendheid van munisipale watergebruik. Saam bied dit ’n volledige beeld van die toestand van Suid-Afrika se watervoorsieningstelsel, wat volgens AfriForum by die dag agteruitgaan.

Die 2025-groendruppelverslag het die agteruitgang van rioolwaterbehandeling herbevestig deur onder meer op die persentasie munisipale rioolwaterstelsels wat in ’n kritieke toestand, aan te dui. Dié stelsels, wat nie die minimum groendruppeldrempel van 31% bereik het nie en as wanfunksioneel beskou word, het van 39% in 2022 tot 47% in 2025 toegeneem. Nakoming van rioolwerke se uitvloeisel is boonop uiters laag, met mikrobiologiese nakoming op 35% en chemiese nakoming op 48%. Die aantal groendruppel-gesertifiseerde stelsels het verder van 22 tot 14 afgeneem. In praktyk beteken dit dat meer rioolwerke faal en meer onbehandelde riool in riviere beland.

Die 2025-bloudruppel-vorderingsverslag toon geen betekenisvolle verbetering sedert die 2023-oudit nie. Wat mikrobiologiese nakoming betref, word 49% van stelsels as hoërisiko geklassifiseer. Chemiese nakoming is selfs swakker, met 63% van stelsels wat in die hoërisikokategorie geplaas is. Die nasionale risikoprofiel het onveranderd gebly, wat bevestig dat die sistemiese probleme wat reeds in 2023 geïdentifiseer is, nie aangespreek is nie.

Die 2025-geendruppel-vorderingsverslag toon dat waterverliese onveranderd bly. Nie-inkomstewater maak steeds ongeveer 47% van alle waterverliese uit, wat beteken dat byna die helfte van behandelde water verlore gaan of nie vir betaal word nie. Fisiese waterverliese bly op 32% van die stelselinsette en die indeks vir infrastruktuurlekkasies het verswak tot ongeveer 7,5 wat swak prestasie aandui. Terselfdertyd oorskry watergebruik nou beskikbare toevoer met 13%. Ten spyte van R1,9 miljard wat aan onder meer waterbesparingspogings bestee is, het nie-inkomstewater met 87,9 miljoen kubieke meter per jaar toegeneem. Die verslag skryf selfs die skynbare verbetering in risikograderings toe aan beter indiening van data, nie aan ’n werklike verbetering in prestasie nie.

“Saam dui die drie verslae op ’n algehele ineenstorting van ’n stelsel wat onderling verbind word. Rioolwerke stort onbehandelde riool in riviere, wat die druk op drinkwaterstelsels verhoog. Terselfdertyd verloor munisipaliteite byna die helfte van hul behandelde water, wat verhoogde onttrekking uit reeds oorbenutte hulpbronne afdwing. Dit skep ’n bose kringloop waarin besoedeling die beskikbaarheid van skoon water verminder; watersuiweringssaanlegte nie kan byhou nie; en ondoeltreffendheid in verspreiding die vraag na ’n krimpende hulpbron verder verhoog,” sê Marais de Vaal, AfriForum se raadgewer vir Omgewingsake.

Oor al drie verslae heen bly dieselfde probleme bestaan: groot hoeveelhede waterverliese, gebrekkige rioolwaterbehandeling en onveilige drinkwater. Die diagnose van hierdie probleme, wat hoofsaaklik aan vaardigheidstekorte en swak institusionele kapasiteit toegeskryf kan word, is reeds in die DWS se 2023-verslae uiteengesit. Die jongste verslae wys dat hierdie kwessies in die daaropvolgende drie jaar nie aangespreek is nie en dat toestande óf verstewig óf verder versleg het.

Marais de Vaal (Afrikaans)

“As die vorige rondte verslae se rol was om die probleme te identifiseer, wys hierdie jongste verslae op die regering se versuim om op te tree. Met geen betekenisvolle verbetering in drie jaar nie, is die data ’n aanklag teen ’n regering wat nie in staat is om die beslissende, gekoördineerde stappe te neem wat nodig is om die watersektor te stabiliseer nie. Die gevolge is reeds sigbaar in ’n afname van watergehalte, toenemende onderbrekings in voorsiening en groeiende risiko’s vir openbare gesondheid en die omgewing,” sê De Vaal.

AfriForum voer aan dat die omvang van die regering se versuim om Suid-Afrika se waterstelsels te bestuur onder die vergrootglas geplaas moet word en dat aanspreeklikheid op munisipale en nasionale vlak nodig is. Die organisasie beklemtoon verder dat die tegniese kundigheid en die kapasiteit van die privaat sektor nodig is om dienslewering te stabiliseer.

“Sonder beslissende ingryping en ’n skuif na bekwame, aanspreeklike bestuur, sal die voortgesette agteruitgang van waterinfrastruktuur versnel, met ernstige gevolge vir gemeenskappe, die ekonomie en die omgewing,” maan De Vaal.

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf