|

Vuilspel! Harlequins-sportklub in Tshwane-metro se visier

Deur Megan Swart

Die Tshwane Metropolitaanse Munisipaliteit is van voorneme om die historiese Harlequins-sportklub voor die einde van April met die grond gelyk te maak. AfriForum is egter reg om die metroraad ’n bloedneus in die hof te gee indien dié eeuoue klub gesluit word.

Die burgerregteorganisasie het vandeesweek aangekondig dat hy die Harlequins-sportklub in Groenkloof, Pretoria met regshulp bystaan nadat die metro onlangs ’n kennisgewing aan die klub uitgereik het waarin opdrag gegee is om die terrein teen 13 April na sy “oorspronklike toestand” te herstel. Die metro voer aan dat die grond waarop hierdie klub gesetel is ’n soneringstatus bevat wat met landbougrond geassosieer word en dat die klub dus die terrein onregmatig vir sport- en ontspanning aanwend.

Die Harlequins-sportklub het egter reeds in 2021 aansoek gedoen dat die klub se soneringstatus na sport- en ontspanningsgronde verander moet word, maar byna vyf jaar later is die soneringsaansoek steeds nie gefinaliseer nie.

“Die Tshwane-metro se versuim om hul administratiewe pligte na te kom kan nou daartoe lei dat ’n klub, wat sedert 1903 ’n belangrike rol in die gemeenskap speel, gesluit word,” sê Maree van den Berg, AfriForum se distrikskoördineerder vir die groter Pretoria-Suid.

“Ons is reeds besig om met ons regspan te konsulteer oor die volgende stappe,” voeg hy by.

Die Harlequins-sportklub is vir die afgelope 123 jaar ’n belangrike gemeenskapsinstelling. Dit kan gesien word in die sowat 64 Springbok-rugbyspelers wie se stories op hierdie klub se velde begin het. Die klub dien as ontwikkelingsentrum vir die plaaslike jeug en talle jong spelers wat nie elders die geleentheid sou kry nie, maak hier vir hulself naam. Die klub skep geleenthede vir rugby-, hokkie-, muurbal-, krieket- en rolbalspelers asook vir kranige hardlopers.

AfriForum het intussen ’n petisie begin waar die gemeenskap hul steun agter die Harlequins-sportklub kan werp. AfriForum sal ’n prokureursbrief aan die Tshwane-metro rig en die petisie oorhandig wat hul aanmaan om hul kennisgewing terug te trek en die sportklub se hersoneringsaansoek te finaliseer.

Teken vandag nog AfriForum se petisie.

Soortgelyke plasings

Magsmisbruik