Viljoenskroon-tak vul slaggate, herstel waterpyp op Valentynsdag
Die AfriForum-tak in Viljoenskroon het op 14 Februarie hulle liefde vir hulle dorp bewys deur in te spring en 23 slaggate in Havemanstraat met 400 kg (16 sakkies) teer te vul.
Volgens dié tak raak dit al hoe moeiliker om die paaie in stand te hou aangesien die toestand daarvan blitsig vererger. Daarom doen hulle ’n beroep op die gemeenskap om slaggate te vul voordat dit op ’n punt kom waar ’n hele stuk pad herstel moet word.
Die waterpyplyn in Steynbergstraat is ook tydens hierdie Valentynsdag-aksie herstel en die sloot is toegemaak. Volgens Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir Mooirivier, is dit onaanvaarbaar dat skoon water verlore gaan terwyl Suid-Afrika ’n waterskaarsland is met ’n dreigende waterkrisis op hande.
“Ongeag die uitdagings is dit lekker om te sien dat hierdie tak nie stilsit nie, al het hulle nie baie fondse nie maak hulle die beste van dit wat tot hulle beskikking is. Hulle maak werklik ’n verskil,” sê Pretorius.
Indien jy wil betrokke raak by die AfriForum-tak, kontak vir Attie Barnard by 082 557 1428. Om by die Viljoenskroon-buurtwag betrokke te raak, kontak vir Herman Smit by 072 127 2250.