| |

Veediefstal stroop landbou van minstens R200 miljoen in slegs een kwartaal – AfriForum

Klankgreep: Hennie Bekker (Afrikaans)
Klankgreep: Hennie Bekker (Engels)

Veediefstal het die Suid-Afrikaanse landboubedryf, volgens AfriForum, van Januarie tot Maart vanjaar van minstens R200 miljoen gestroop in direkte verliese. AfriForum voer aan dat hoewel 5 671 klagtes van veediefstal wat luidens die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) se nuutste kwartaallikse misdaadstatistiek in die vierde kwartaal van 2024/2025 landwyd gesteel is, vergeleke met dieselfde kwartaal in 2023/2024 neerkom op ’n afname van 8,9%, daar geen rede is om vreugdesvure aan te steek nie.

Die burgerregteorganisasie benadruk dat die totale finansiële verlies weens veediefstal aansienlik meer is as die konserwatief geskatte R200 miljoen. Die indirekte finansiële verlies weens veediefstal sluit onder meer die verlies in aanteelpotensiaal, die koste van die implementering van veiligheidsmeganismes en verhoogde versekeringspaaiemente in, en sal moet bygereken word om die ware finansiële verlies van dié misdaad te bepaal.

Volgens Hennie Bekker, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Hoëveld in Mpumalanga en samesteller van ’n nuwe AfriForum-kursus oor die bekamping van veediefstal, word die Oos-Kaap die ergste getref deur veediefstal. In dié provinsie is 1 628 veediefstalklagtes in die vierde kwartaal van 2024/2025 aangemeld. In dieselfde tyd is 569 klagtes van veediefstal in Mpumalanga aangemeld, terwyl ses polisiestasies in dié provinsie ook reken onder die 30 stasies met die hoogste aanmeldingsvlakke van veediefstal. Drie van dié stasies het vergeleke met dieselfde kwartaal in 2023/2024 boonop ’n toename in die aantal aanmeldings van veediefstal aangeteken.

“In die afgelope kwartaal alleen is ’n totaal van net meer as 19 000 skape, nagenoeg 12 000 beeste en 12 000 boerbokke landwyd gesteel, en in die afgelope jaar is meer as 25 600 klagtes van veediefstal aangemeld. Dié syfers skets egter nie die volle omvang van die probleem van veediefstal nie. Boere spandeer miljoene rande aan wagte en tegnologie om hul vee te beskerm. Dit tesame met die groot ekonomiese druk op die vleismark, bring boere uiteindelik tot op die punt waar die somme net nie meer klop nie en ’n winsgewende boerdery bykans onhaalbaar word,” verduidelik Bekker.

Hy benadruk voorts dat die verkeerdelike klassifikasie van veediefstal sowel as gevalle van polisie se traagheid om die misdade deur die publiek te laat aanmeld, verdere probleme skep.

“Gevalle waar boere wat veediefstal wil aanmeld, weggewys word by die polisie se klagtekantore is uiters kommerwekkend. In een onlangse geval wat by AfriForum aangemeld is, moes ’n AfriForum-lid en boer onverrigter sake wegdraai by drie polisiestasies ná hy onsuksesvol probeer het om die diefstal van vee ter waarde van meer as R100 000 aan te meld,” sê Bekker.

Bekker voer ook aan dat die SAPD se veediefstaleenhede verskeie kritieke uitdagings moet trotseer. Die eenhede is grootliks onderbeman en ondervind uitdagings met ’n vloot ou of onbetroubare voertuie waarmee hulle lang afstande – op telkens rowwe terrein – moet aflê. Die eenhede moet ook enorme streke bedien, met sommige eenhede wat selfs meer as 11 polisiestasies bedien. “Om die probleem te vererger, raak veediefstalsindikate by die dag meer gesofistikeerd en weet hulle presies hoe om die uitdagings in landelike veiligheid in hul guns te gebruik. Gesteelde vee word dikwels oor provinsiale grense vervoer wat die nasporing meer uitdagend maak. Dié vee word dan telkens meer as 200 km weg van die misdaadtoneel van die hand gesit op veilings of aan spekulante. Die SAPD-lede in ander eenhede is boonop ook nie noodwendig genoegsaam opgelei om veediefstal te ondersoek of te bekamp nie,” sluit hy af.

Jacques Broodryk, AfriForum se hoofwoordvoerder vir Gemeenskapsveiligheid, beklemtoon dat die gemeenskap se samewerking by die bekamping van veediefstal noodsaaklik is. “Dit is van kardinale belang vir boere om by hul plaaslike landelike veiligheidstrukture, soos AfriForum-plaaswagte, aan te sluit om dié kwessie takel en gevalle waar die SAPD weier om gevalle van veediefstal te registreer, dadelik by AfriForum aan te meld,” sluit hy af.

Nuwe kursus: AfriForum slaggereed om veediewe vas te vat

AfriForum se meer as 170 buurtwagte en plaaswagte landwyd is bewus van die talle uitdagings wat die veediefstaleenhede in die gesig staar. Die burgerregteorganisasie het daarom onlangs ’n opleidingsprogram saamgestel om die organisasie se buurt- en plaaswaglede doeltreffend op te lei in die bekamping van veediefstal, ’n nasionale multimiljoenrand misdaadprobleem.  

Die volgende aanlyn opleidingsgeleentheid in die bekamping van veediefstal vind later vandeesmaand op 18 Junie plaas. Die opleiding word gratis aangebied aan alle belangstellende AfriForum-lede en plaas die fokus op al die nodige wetlike aspekte om die doeltreffende bekamping van veediefstal te verseker. Bykomende opleidingsgeleenthede, soos AfriForum se nuwe spoorsnykursus, is ook daarop gemik om die knellende veediefstalprobleem wat landelike gemeenskappe teister, hok te slaan.

Sluit vandag nog aan by AfriForum om van dié opleidingsgeleenthede gebruik te maak. Besoek www.wordlid.co.za vir meer inligting.

Soortgelyke plasings