Tshwane-metro swyg terwyl AfriForum bal aan die rol sit om infrastruktuur te beveilig
Ondanks verskeie briewe aan en vergaderings met die Tshwane Metropolitaanse Munisipaliteit oor AfriForum se bereidwilligheid om noodsaaklike infrastruktuur teen vandale te beskerm, swyg die metro steeds oor die burgerregteorganisasie se aanbod om hulp. AfriForum is nietemin gereed om op eie onkoste broodnodige veiligheidsopgraderings by kritiese infrastruktuur aan te bring en het reeds die bal aan die rol gesit om dié opgraderings in die volgende paar weke te laat realiseer.
“AfriForum het al telkemale voorgestel om krag- en waterinfrastruktuur in samewerking met die Tshwane-metro en sy bestaande magte te beveilig deur gevorderde tegnologie te gebruik, maar nog elke keer swyg die metro hieroor. Instede het die metro verlede maand besluit om nóg ’n paar honderd miljoen op te dok sodat meer veiligheidswagte brandpunte kan beman,” sê Llewellynn Hemmens, AfriForum se distrikskoördineerder vir Groter Pretoria-Noord.
Verskeie raadslede het al by die metro benadruk hoe belangrik AfriForum se voorgestelde ingrypings is vir die beveiliging van noodsaaklike infrastruktuur, maar selfs dié pleidooie het op dowe ore geval.
AfriForum glo egter daarin om proaktief te wees en ondanks die onwilligheid, skouer aan die wiel te sit om blywende verandering in gemeenskappe teweeg te bring. Dit is om dié rede dat die burgerregteorganisasie op sy eie onkoste gevorderde stelsels by noodsaaklike infrastruktuur gaan installeer. Dié tegnologie gaan veiligheidsmagte vroegtydig waarsku sou daar enige sabotasie by infrastruktuur plaasvind.
“As daar vroegtydig waarskuwings ontvang word, kan vinnige reaksies van verskeie rolspelers, insluitend die metropolisie, sekuriteitsdienste, buurtwagte en ander veiligheidsrolspelers, doeltreffend gekoördineer word. Dit sal help om skade te beperk en te verseker dat misdadigers wat hierdie areas teiken, werklik aangekeer word,” sê Hemmens.
Die burgerregteorganisasie is reeds besig om formele samewerkingsooreenkomste met sekuriteitsmaatskappye te sluit om te help met die monitering van hierdie veiligheidstelsels. AfriForum gaan eerstens fokus om brandpunte waar kabeldiefstal, die sabotering van substasies en waterverliese algemeen voorkom, soos in die Apiesrivier, Pretoria-Oos en dele van die Moot, beveilig.
“AfriForum glo dat die enigste volhoubare manier om die metro se infrastruktuur-uitdagings die hoof te bied, deur samewerking tussen burgerlike organisasies, sekuriteitsmaatskappye, gemeenskapspolisiëringsforums, buurtwagte en die Tshwane Metropolitaanse Munisipaliteit bewerkstellig kan word. AfriForum bly daartoe verbind om ’n verskil op grondvlak te maak en glo dat hy deur sy goeie verhoudings met raadslede, gemeenskappe en plaaslike sekuriteitsmaatskappye van hierdie projek ’n sukses kan maak,” sluit Hemmens af.