|

Tshwane-metro speel met belastingbetalers se geld deur appèlaansoek te oorweeg

Klankgreep: Arno Roodt (Afrikaans)
Klankgreep: Arno Roodt (Engels)

Om die Hooggeregshof in Pretoria se onlangse uitspraak oor die Tshwane Metropolitaanse Munisipaliteit se omstrede stadsreinigingsheffing te appelleer, is ’n mors van belastingbetalers se geld. Só sê AfriForum oor die metro se moontlike voorneme om ’n appèlaansoek teen die hofuitspraak op 31 Julie, wat die metro se implementering van hierdie heffing as ongeldig en onwettig verklaar, te bring.

Die burgerregteorganisasie het die hof genader om die metro se besluit om dié nuwe verpligte maandelikse heffing van R194,37 (BTW uitgesluit) op nagenoeg 260 000 huishoudings en ondernemings in die metro ter syde te laat stel. AfriForum het aangevoer dat die heffing neerkom op onwettige en onbillike dubbele belasting, veral in gevalle waar inwoners nie enige voordeel trek uit die metro se vullisverwyderingsdiens nie én gedwing word om van privaat diensverskaffers gebruik te maak. Die hof het die heffing met onmiddellike effek ter syde gestel.

Buiten dat ’n appèlaansoek ’n vermorsing is van belastingbetalers se geld, het AfriForum vandag in ’n brief aan die Tshwane-metro gewaarsku dat die hofuitspraak nie net die heffing self verwerp het nie, maar ook skerp kritiek gelewer het oor hoe die metro die proses hanteer het. Die hof het die metro se saak as “verwarrend, misleidend en onsamehangend” beskryf en uitdruklik die gebrek aan deursigtigheid en wetlike verantwoordbaarheid uitgewys.

“Hoewel ons bereid is om hierdie saak – indien nodig – verder te voer, maan AfriForum die munisipaliteit aan om politiek en ego opsy te skuif en die finansiële implikasies van ’n appèl deeglik te oorweeg,” sê Deidré Steffens, AfriForum se raadgewer oor Plaaslikeregeringsake. “Behalwe vir die half miljard rand waarop die metro met die stadsreinigingsheffing staatgemaak het en die bestrawwende kostebevel, kan nog ’n slegte ronde in die hof die metro se finansies ’n verdere knou gee – iets wat hulle nie kan bekostig nie,” meen Steffens.

AfriForum sê voorts die metro se besluit om drie advokate aan te stel om die saak teen die organisasie se een advokaat aan te pak, duidelik wys dat dit nie oor kostebesparing gaan nie, maar eerder oor die beskerming van politieke agendas ten koste van die belastingbetaler.

“AfriForum het dit ook onder die metro se aandag gebring dat daar gevalle was waar staatsamptenare – wat te kwader trou opgetree het, hul wetlike magte oorskry het of roekeloos litigasie gevoer het – persoonlike kostebevele in die gesig gestaar het wat teen hulle opgelê is en nie net teen die entiteit wat hulle verteenwoordig nie,” sê Arno Roodt, AfriForum se distrikskoördineerder vir Groter Pretoria-Suid.

“Dit is tyd dat die metro terugkeer na die tekenbord en ’n wettige, diensgebaseerde begroting vir die volgende finansiële jaar opstel. Om aan te hou baklei oor ’n proses wat reeds deur die hof verwerp is, is nie gesonde leierskap nie – dit is wanadministrasie,” sluit Roodt af.

AfriForum moedig ook alle inwoners van die Tshwane-metro aan om ’n dispuut teen hul rekening te verklaar,  indien die heffing daarop verskyn. Die metro het in hul hofstukke genoem dat dit nie ingewikkeld is om rekeninge te krediteer nie en dat – sou die hof die heffing onwettig verklaar – hulle nie sal sukkel om hierdie administratiewe taak uit te voer nie.

AfriForum het ’n platform geskep waar inwoners, wat reeds hierdie heffing op hul rekening ontvang het, ’n pasgemaakte dispuutbrief kan aflaai om ’n dispuut teen hierdie heffing te verklaar en so te verseker dat hul rekeninge gekrediteer word. Klik hier om ’n dispuut by die Tshwane-metro te verklaar.

Soortgelyke plasings