|

Tshwane-metro se stadsreinigingsheffing is dubbele belasting – AfriForum

Klankgreep: Deidré Steffens (Afrikaans)
Klankgreep: Deidré Steffens (Engels)

Die Tshwane Metropolitaanse Munisipaliteit se raad het gister die beplande stadsreinigingsheffing van nagenoeg R200 per maand goedgekeur. AfriForum veroordeel die metro se besluit om hierdie heffing deur te druk ten spyte van die moontlike onwettigheid daarvan en sterk teenkanting uit verskeie oorde. Hierdie heffing sal geld vir alle eiendomme wat nie tans gebruik maak van die munisipale vullisverwyderingsdiens nie.

Volgens AfriForum word eienaars wat reeds weens swak dienslewering afstand gedoen het van die munisipale vullisverwyderingsdiens nou met hierdie heffing geteiken.

“Hierdie individue het gekies om eerder gebruik te maak van privaat vullisverwyderingsdienste juis omdat die Tshwane-metro se dienslewering twyfelagtig is, nou word daar van hulle verwag om steeds te betaal vir iets waaruit hulle geen voordeel gaan trek nie,” sê Arno Roodt, AfriForum se distrikskoördineerder vir Groter Pretoria-Suid.

Roodt voeg by dat dit betreurenswaardig is dat die metro nie publieke deelname verwelkom of aanmoedig nie. “AfriForum het reeds twee briewe aan die munisipaliteit gestuur om meer inligting oor hierdie heffing te versoek,  ander voorstelle te gee om hul begroting aan te vul en ook moontlike onwettigheid van die heffing uit te wys. Ná vele probeerslae om in gesprek te tree met die munisipaliteit is ons genoop om ons prokureurs opdrag te gee om verdere teenkanting teen die heffing aan te teken.”

Die organisasie het by monde van sy regspan dit duidelik aan die Tshwane-metro gestel dat die Grondwet vereis dat munisipaliteite die maatskaplike en ekonomiese ontwikkeling van gemeenskappe in hul begrotingsprosesse moet bevorder. Dit is egter nie die geval met die beoogde implementering van hierdie heffing nie.

Volgens Deidré Steffens, raadgewer vir Plaaslikeregeringsake by AfriForum, sal hierdie heffing neerkom op dubbele belasting. “’n Diens wat nie ’n inkomste genereer nie, soos ’n reinigingsheffing, word gewoonlik deur eiendomsbelasting gefinansier. Dus is die metro se regverdiging vir hierdie heffing nie aanvaarbaar nie.”

“Hoewel die munisipaliteit by magte is om belasting en tariewe te hef om hul inkomste aan te vul of te verseker is daar steeds bepaalde maatreëls in plek om verbruikers te beskerm,” voeg Steffens by.

Artikel 74(2) van die Munisipale Stelselswet stipuleer beginsels oor tariefbeleid en bepaal dat tariewe die koste moet weerspieël wat redelikerwys met die lewering van die diens verband hou, en gebruikers moet gehef word in verhouding tot hul gebruik van daardie diens. Die voorgestelde stadsreinigingsheffing (city cleansing levy) blyk egter hierdie beginsel te weerspreek, aangesien dit ’n vaste heffing per eiendom is eerder as ’n gebruiksgebaseerde fooi.

AfriForum het reeds met hul regspan gekonsulteer oor die volgende stappe wat gedoen moet word om hierdie raadsbesluit te laat hersien en tersyde te laat stel.

Soortgelyke plasings