Tshwane-metro se bewerings dat private brandweerdienste onwettig is, is ongegrond – AfriForum
AfriForum waarsku dat die Tshwane Metropolitaanse Munisipaliteit se aggressiewe aanval op private brandweerdienste nie net kortsigtig is nie, maar inwoners se lewens en eiendom direk in gevaar stel. Dit volg ná ’n mediaverklaring op 30 Junie waarin die Tshwane-metro aanvoer dat private brandweerdienste onwettig is.
Hoewel die Tshwane-metro al in Junie 2024 ’n aansoek by die Hooggeregshof in Pretoria ingedien het teen private brandweerdienste, het die saak nog nie voor die hof gedien nie en bestaan daar tans geen hofuitspraak wat bevestig dat hierdie dienste onwettig is nie. Om dus nou reeds na private brandweerdienste as “onwettige bedrywighede” te verwys, is nie net misleidend nie maar ook nie korrek nie. AfriForum se regspan staan Sinoville Brandbestrydingsvereniging by in hierdie saak. Die voorverhoor sal na verwagting in Augustus begin.
“In teenstelling met die Tshwane-metro se ongegronde bewerings dat private brandweerdienste onwettig is, is AfriForum se regspan oortuig dat daar geen wet is wat die stigting en bedryf van private brandweerdienste verbied nie,” sê Tarien Cooks, rampbestuurspesialis by AfriForum.
“Die Tshwane-metro sukkel om finansieel kop bo water te hou en behoort eerder hierdie addisionele kapasiteit – in belang van die inwoners – aan te gryp, as om dit van die hand te wys. Dit is onaanvaarbaar dat ’n metro met sukkelende hulpbronne kies om regsprosesse na te jaag teen instansies wat proaktief en doeltreffend in tye van nood optree.”
AfriForum het reeds na die Tshwane-metro uitgereik in ’n poging om hierdie saak op ’n konstruktiewe wyse te bespreek. Die metro het egter geweier om in gesprek te tree, wat ’n duidelike aanduiding is dat hul prioriteite nie by inwoners se veiligheid is nie, maar eerder by politieke beheer en burokratiese mag.
Daar is meer as een bewys van munisipale brandweerdienste wat faal en nie doeltreffende diens aan hul inwoners kan lewer nie – dit is ’n werklikheid wat nie geïgnoreer kan word nie. In die Stad Johannesburg het die munisipale brandweerdienste reeds in duie gestort en private instellings soos Fire Ops SA moes noodgedwonge die leemte vul en lewens red. Die praktyk van private brandweerdienste is dus nie ’n bedreiging vir openbare veiligheid nie maar ’n noodsaaklikheid wat reeds telkemale bewys het dat dit werk.
“Dit is in die belang van elke Pretoria-inwoner om toegang tot brandweerdienste te hê – of dit nou van die munisipaliteit of ’n private diensverskaffer is. In plaas daarvan om teen dié dienste te veg, behoort die Tshwane-metro dit met albei hande aan te gryp,” sluit Cooks af.
AfriForum sal voortgaan om druk toe te pas vir ’n billike, inklusiewe en doeltreffende benadering tot brandveiligheid – een wat lewens red.