Betroubare krag- en watervoorsiening in Rustenburg moet prioriteit geniet, eis AfriForum
AfriForum hou vol dat betroubare krag- en watervoorsiening aan die inwoners van die Rustenburg Plaaslike Munisipaliteit prioriteit moet geniet in dié munisipaliteit se ontwikkelings- en begrotingsbeplanning. Die burgerregteorganisasie het sy eise en voorstelle rakende die voorsiening van krag en water, sowel as ander dienslewerings- en infrastruktuurkwessies ingesluit in sy insette vir die munisipaliteit se geïntegreerde ontwikkelingsplan (GOP) vir 2026/2027.
Die insette strook met die raamwerk wat gestel word deur artikel 152 van die Grondwet wat die oogmerke van plaaslike regering uiteensit.
In sy voorlegging beklemtoon AfriForum dat die munisipaliteit steeds onder ernstige finansiële, administratiewe en diensleweringsdruk verkeer en sedert die munisipaliteit in 2020/2021 vir die eerste keer ’n gekwalifiseerde ouditmening gekry het, nog nie weer verbetering getoon het nie. Intussen bly die munisipaliteit se uitgawes steeds hoër as sy inkomste, terwyl die ouditeur-generaal bevind het dat 96% van skuld aan die munisipaliteit waarskynlik nie verhaal sal kan word nie.
“Dit is duidelik dat die Rustenburg-munisipaliteit nie bloot sukkel met onverwante en nietige diensleweringsprobleme nie, maar met ’n veel dieper bestuur- en instandhoudingskrisis. Wanneer ’n munisipaliteit se uitgawes sy inkomste oorskry en infrastruktuur nie betyds onderhou word nie, is dit inwoners wat uiteindelik die prys betaal,” waarsku Armand Viljoen, AfriForum se distrikskoördineerder vir Marico.
As deel van AfriForum se voorlegging aan die munisipaliteit, benadruk die organisasie ook die druk waaronder die munisipaliteit se kragnetwerk gebuk gaan. Volgens beskikbare data is Rustenburg-munisipaliteit se kragverliese (die verskil tussen krag wat van Eskom aangekoop word teenoor dit wat van verbruikers verreken kan word) meer as 30%. Daarbenewens toon die munisipaliteit se eie beplanningsdokumente dat ongeveer R967 miljoen nodig word vir die opgradering van elektrisiteitsinfrastruktuur.
Gegewe dié uitdagings, versoek AfriForum dat verskeie kragvoorsieningskwessies geprioritiseer moet word in die huidige beplanning- en begrotingsproses, naamlik verbeterde foutaanmelding, kommunikasiekanale, reaksietye op kragonderbrekings en kapitale opgraderings.
Benewens kragvoorsieningsprobleme is watervoorsiening en rioolwaterverwerking ook volgens AfriForum ’n bron van kommer. “Hoewel waterverliese volgens die jongste toeganklike inligting verbeter het, bly dit steeds bo aanvaarbare norme,” verduidelik Viljoen. Probleme soos die verval van waterinfrastruktuur, herhalende lekkasies en druk op reservoirs beïnvloed reeds betroubare watervoorsiening aan gemeenskappe soos Zinniaville, East End, Rustenburg-Noord en Cashan, terwyl watersuiweringswerke ook oor kapasiteit moet funksioneer en die risiko van besoedeling en omgewingskade verhoog.
“Betroubare water is ’n noodsaaklike diens waarsonder inwoners nie kan klaarkom nie. Daarom moet die Rustenburg-munisipaliteit daadwerklik optree en nie die GOP as ’n blote administratiewe oefening ag nie. Inwoners is geregtig op ’n prakties uitvoerbare plan wat meetbare verbeterings bring,” meen Viljoen.
Raak vandag nog betrokke by AfriForum se Rustenburg-tak
AfriForum se Rustenburg-tak plaas deurlopende druk op die Rustenburg-munisipaliteit om te verseker dat geleenthede vir gemeenskapsdeelname, soos deelname aan die GOP-beplanning, nie bloot simbolies hanteer word nie, maar tot werklike verbetering in dienslewering lei.
Word deel van dié tak om ’n aktiewe verskil in die Rustenburg-gemeenskap te maak. Besoek www.wordlid.co.za vir meer inligting.



