|

Sukses: AfriForum verheug dat matriekuitslae van 2024 gepubliseer sal word

AfriForum verwelkom die nuus dat die matrikulante van 2024 se uitslae wel weer in die media gepubliseer gaan word, soos wat in die verlede die geval was.

In ’n verklaring wat deur die Departement van Basiese Onderrig uitgereik is, noem die departement dat dit appelleer teen die opdrag van die Inligtingsreguleerder dat die uitslae nie in die media openbaar gemaak mag word nie. Die departement voeg by dat dit onderhewig aan ’n hofuitspraak van 2022 is wat dit verplig om die uitslae wel te publiseer. Totdat die appèlproses afgehandel is, is die Inligtingsreguleerder se opdrag dus op ys en sal dit moontlik wees om oudergewoonte uitslae te publiseer.

Die hofuitspraak waarna verwys word, is dié in die saak van AfriForum en ander partye van 2022 wat verseker het dat die matrikulante van 2021 se resultate gepubliseer kon word. Die regter het bevind dat die aard van die uitslae wat gepubliseer word, niemand se privaatheid skend nie en hy het die departement dus destyds opdrag gegee om met die publikasie voort te gaan. Die sukses van 2022 het dus ook ‘n deurslaggewende rol vir die matrieks van 2024 gespeel.

“AfriForum hou vol dat dit in openbare belang is dat hierdie inligting in die media gedeel word. Dit is een van die redes waarom ons destyds hierdie aansoek gebring het en vanjaar weer gereed was om met regsaksie teen die Inligtingsreguleerder voort te gaan. Ons is verheug dat die hof ons in 2022 gelyk gegee het in hierdie argument en nog meer bly dat die matrieks vanjaar weer hulle uitslae op hierdie wyse sal kan bekom,” sê Alana Bailey, AfriForum se hoof van Kultuursake.

Soortgelyke plasings