|

Struisbaai is veilig, sê AfriForum-buurtwag met massapatrollie en veiligheidsoefening

AfriForum se Struisbaai-buurtwag het Vrydag (11 April) deelgeneem aan dié burgerregteorganisasie se landwye patrollie en het terselfdertyd ook ’n gebeurlikheidsplan vir ’n noodsituasie in Struisbaai ingeoefen. Nagenoeg 30 AfriForum-buurtwaglede en 13 lede van ander instansies het aan dié patrollie deelgeneem waartydens een insident aangemeld is en patrollielede ’n totaal van 381 km met 22 voertuie afgelê het. Hiermee stel dié buurtwag dit duidelik dat die veiligheid van Struisbaai, die omliggende gebied en sy mense ’n prioriteit is.

Hierdie landwye patrollie is die eerste van sy soort vir die jaar en het AfriForum se 177 plaas- en buurtwagte landwyd gemobiliseer as deel van ’n hoësigbaarheidsoperasie om misdaad te bekamp, paraatheid op te skerp en strukture se mobilisasie en kommunikasie as deel van die organisasie se nasionale radionetwerk op die proef te stel. Inoefening rat AfriForum se veiligheidstrukture dus op hierdie manier landwyd om, wanneer nodig, blitsig en doeltreffend te reageer in die belang van gemeenskappe se veiligheid.

Op Struisbaai het die AfriForum-buurtwag die aand afgeskop met ’n hoësigbaarheidskonvooi deur Struisbaai en L’Agulhas, waarna daar in skofte verdeel en die gebied van hoek tot kant gepatrolleer is. Tydens die gebeurlikheidsplanoperasie het die buurtwag, in samewerking met die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) en privaat sekuriteitsmaatskappye, die opsporing en monitering van ’n verdagte voertuig ingeoefen.

Volgens Andrew Hudson, leier van AfriForum se Struisbaai-buurtwag, was hierdie operasie nie net ’n eerste vir dié buurtwag nie, maar ook ’n reusesukses. “Ons bedank almal wat betrokke was om van die aand ’n sukses te maak. Met hierdie operasie stuur ons ’n duidelike boodskap: AfriForum is in Struisbaai, en ons sal dit veilig hou!”

Soortgelyke plasings