|

Staak wysigings aan PSiRA-regulasies, eis AfriForum te midde van Matlala-skandaal

Klankgreep: Jacques Broodryk (Afrikaans)
Klankgreep: Jacques Broodryk (Engels)

Die Matlala-skandaal, waarby Vusumuzi “Cat” Matlala, die omstrede sakeman en eienaar van verskeie privaat sekuriteitsmaatskappye betrek word, wys volgens AfriForum dat sistemiese korrupsie en ’n gebrek aan wetstoepassing by die reguleerder van die privaat sekuriteitsbedryf (PSiRA) omvangryk is en nou krisisafmetings bereik het. AfriForum hou daarom vol dat dié kwessies veel eerder dringende aandag vereis as wysigings aan regulasies ingevolge die Wet op die Regulering van die Private Sekuriteitsbedryf en dring in die lig van die jongste onthullings in die Matlala-saak daarop aan dat die voorgestelde wysigings aan regulasies vir die privaat sekuriteitsbedryf onmiddellik gestaak moet word.

AfriForum dring voorts aan op ’n onafhanklike ad hoc-ondersoek om verbintenisse tussen PSiRA en kriminele netwerke te ondersoek. Dié versoek spruit uit die onthulling dat die arsenaal van meer as 40 vuurwapens wat in November verlede jaar by die sakevrou Shauwn “MaMkhize” Mkhize se huis gekonfiskeer is, aan Matlala behoort. AfriForum voer aan dat die ondersoek onder meer moet bepaal hoe Matlala, wat benewens die jongste skandaal reeds verskeie kere met die gereg gebots het, steeds daarin slaag om PSiRA-akkreditasie vir sy sekuriteitsmaatskappye te kry.

Benewens die ondersoek na PSiRA se bande met kriminele, dring AfriForum ook daarop aan dat die voorgestelde wysigings aan regulasies vir die privaat sekuriteitsbedryf gestaak word. AfriForum eis ook dat dissiplinêre stappe en kriminele vervolging ingestel moet word teen PSiRA-amptenare en lede van die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) wat Matlala se bedrywighede gefasiliteer het. Laastens dring die organisasie aan op deursigtigheid rakende PSiRA-prosedures vir vuurwapenakkreditasie en die invloed van politieke inmenging in die toekenning van hoërisiko-sekuriteitskontrakte.

Volgens Jacques Broodryk, AfriForum se hoofwoordvoerder vir Gemeenskapsveiligheid, wys Matlala se jongste skandaal daarop dat PSiRA waarskynlik ’n ernstig gekompromitteerde regulatoriese stelsel is. “Dié stelsel het oënskynlik toegelaat dat Matlala se maatskappye straffeloos bedryf word, ten spyte van die uiteenlopende kriminele aanklagtes, twyfelagtige staatstenders en voortdurende ondersoeke waarmee dié tenderpreneur verbind word,” verduidelik Broodryk. “Dit is nou duidelik dat die regulatoriese krisis in die privaat sekuriteitsektor nie te wyte is aan onvoldoende wetgewing of regulasies nie, maar PSiRA en ander wetstoepassingsaggentskappe se versuim om bestaande wette in dié bedryf af te dwing.”

Selfs twee maande nadat die Parlementêre Portefeuljekomitee oor Polisie vrae geopper het, kon PSiRA – wat die integriteit in die privaat sekuriteitsbedryf moet handhaaf – geen geloofwaardige verduideliking gegee oor waarom Matlala toegelaat is om sy ondernemings steeds vryelik te bedryf nie. Die regulering se bewering dat “geen oortredings gevind kon word nie” strook nie met die oorweldigende bewyse nie.

Die mense van die land verdien ’n professionele en deursigtige privaat sekuriteitsektor wat verbind is tot wettige diens – nie een wat gekaap word deur kriminele sindikate wat deur politieke bondgenote en mislukte reguleerders moontlik gemaak word nie.

Soortgelyke plasings