SONA 2026: Ramaphosa laat boere en verbruikers in die steek met gesentraliseerde BEK-inentingsplan
President Cyril Ramaphosa het volgens AfriForum vanaand boere en vleisverbruikers ernstig in die steek gelaat deur steeds te volhard in ’n benadering van gesentraliseerde verkryging van bek-en-klouseer (BEK)-entstowwe. Dié reaksie volg op Ramaphosa se aankondiging tydens sy staatsrede vroeër vanaand dat die verkryging van inentings sentraal deur die regering gefasiliteer sal word.
AfriForum waarsku voorts dat ondanks Ramaphosa se aankondiging dat BEK nou tot nasionale ramp verklaar is, die ingryping onsuksesvol sal wees as dit op ’n gesentraliseerde wyse geskied.
“Die land kort nou desentralisering en privatisering, maar die president volhard steeds met ’n mislukte beleid van sentralisering – ’n beleid wat probleme op byna elke terrein in die samelewing tot gevolg het,” verduidelik Jacques Broodryk, AfriForum-woordvoerder.
Hierdie benadering bevestig volgens AfriForum dat die regering nie verbind is tot oplossings nie, maar eerder voortgesette sentralisering ten koste van die land en sy mense. “Met die sentrale aankope van entstowwe gaan die regering blindelings voort op sy pad van vernietiging en is die regering aandadig aan die omvangryke krisis wat weens bek-en-klouseer woed en nou selfs verdere verwoesting gaan saai,” sluit Broodryk af.



