|

SONA 2026: Ramaphosa bou weer lugkastele met nog ’n taakspan om waterkrisis te pak

President Cyril Ramaphosa se aankondig oor ’n nuwe Nasionale Waterkrisiskomitee wat die voortslepende waterkrisis in die land sal help pak, is volgens AfriForum niksseggend as die vorige twee taakspanne wat oor die afgelope paar jaar gestig is om die einste krisis die hoof te bied, enige aanduiding van sukses is. AfriForum voer aan dat hierdie komitee nie veel meer sal vermag as politici en munisipale amptenare nie met die nodige dringendheid vir hul mislukkings aanspreeklik gehou word nie.

Ondanks ’n taakspan wat in Februarie 2024 gestig is om dienslewering ten opsigte van water- en sanitasie te ondersoek en nóg ’n taakspan wat deur adjunkpresident Paul Mashatile en ministers van verskeie departemente in April 2025 op die been gebring is om dié uitdagings op te los, is die land steeds in ’n ernstige waterkrisis gedompel.

“Tot op hede is dit onduidelik wat dié twee taakspanne vermag het. Dit laat veel te wense oor wat die president se jongste krisiskomitee sal kan uitrig, behalwe om nog leë beloftes op te dis oor hervormings op munisipale vlak en ingrypings op nasionale vlak,” sê Marais de Vaal, AfriForum se adviseur vir Omgewingsake.

Onlangse openbare verklarings van politici, waterowerhede en staatsdepartemente wat die skuld vir Gauteng se huidige waterkrisis hoofsaaklik op inwoners plaas, is boonop misleidend, ongegrond en word nie eens deur die Departement van Water en Sanitasie se huidige data ondersteun nie.

“Gauteng se waterkrisis spesifiek word grotendeels deur munisipale waterverliese en gebrekkige onderhoud op infrastruktuur gedryf. Om teen hierdie agtergrond die blaam te verskuif na ’n styging in huishoudelike vraag, is misleidend en ignoreer die werklike oorsaak van die krisis,” sê De Vaal.

AfriForum doen daarom ’n dringende beroep op die president om daad by die woord te voeg en die strafsake teen 56 munisipaliteite wat versuim om betroubaar water aan landsburgers te verskaf, te bespoedig. AfriForum eis al vir jare dat skuldige munisipale bestuurders in hul persoonlike hoedanigheid vervolg en uit hul amp verwyder word.

“Die waterkrisis gaan nie deur beloftes om verandering opgelos word nie, maar deur beslissende optrede wat die verval van waterinfrastruktuur aktief teëwerk,” sê De Vaal.

“Die waterkrisis in geheel en watersekerheid in Gauteng spesifiek, sal slegs verbeter wanneer daar eerlik gekommunikeer word oor die werklike oorsake van die krisis, staatsorgane aanspreeklik gehou word vir hul mislukkings en daar daadwerklik opgetree word om infrastruktuur in stand te hou.”

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf