Só kan inwoners rioolprobleme in Thabazimbi nou maklik aanmeld
Inwoners van Thabazimbi kan nou die dorp se rioolprobleme via ’n skakel op hul fone of rekenaars aanmeld – dis so maklik soos 1-2-3. AfriForum se Thabazimbi-tak het ’n webblad bekendgestel waar die ernstige rioolprobleme in Thabazimbi op een plek gerapporteer kan word. Dit volg ná volgehoue druk op die Thabazimbi Plaaslike Munisipaliteit om die voortslepende uitdagings met verstopte dreine en rioolstelsels in die dorp op te los. Die Thabazimbi-munisipaliteit het intussen uiteindelik ’n vragmotor aangeskaf om aandag aan dié probleme te gee.
Die gemeenskap van Thabazimbi ervaar al geruime tyd ernstige uitdagings met die rioolstelsel, wat nie net ’n gesondheidsrisiko inhou nie, maar ook die algehele lewensgehalte van inwoners benadeel. In ’n poging om die munisipaliteit te help om aandag aan hierdie kwessies te gee, het AfriForum die webblad geskep waar inwoners inligting kan invul van verstopte dreine of ander rioolverwante probleme.
Hoe dit werk:
- Klik op dié skakel: www.artikels.afriforum.co.za/verstopte-riooldreine/.
- Vul die nodige inligting op die webblad in om spesifieke probleme aan te dui.
- Die Thabazimbi-munisipaliteit sal die ingediende inligting ontvang, wat die munisipaliteit in staat sal stel om vinnig en doeltreffend op die aangevraagde herstelwerk te reageer.
“AfriForum glo dat hierdie webblad nie net die munisipaliteit sal help om die probleme op te los nie, maar ook die gemeenskap se stem sal versterk in die stryd teen swak dienslewering. AfriForum is van plan om met soortgelyke drukaksies die Thabazimbi Plaaslike Munisipaliteit te dwing om die nodige dienste te lewer,” sê Hendrik Kotze, AfriForum se distrikskoördineerder vir Limpopo.
AfriForum moedig alle inwoners van Thabazimbi aan om deel te neem aan hierdie inisiatief en om die webblad te gebruik om hul rioolprobleme aan te dui. Saam kan ons ’n verskil maak en ’n gesonder en veiliger omgewing vir almal skep.