Smutsville-buurtwag se patrollies nou beter belig ná skenking van Knysna-tak
AfriForum se Knysna-tak het flitse aan die Smutsville-buurtwag in Sedgefield geskenk om te gebruik tydens hul buurtwagaksies. Hoewel dié buurtwag nie ’n AfriForum-struktuur is nie, is goeie samewerking tussen gemeenskapstrukture nodig om die gemeenskap doeltreffend te kan dien.
AfriForum se Knysna-tak, wat die groter Knysna Munisipale-gebied dien, glo dat samewerking tussen alle rolspelers nodig is om ’n beter en veiliger toekoms vir almal te skep.
“Ons sal aanhou om ons gemeenskappe te beveilig, en saam met ander rolspelers te werk om te verseker dat misdaad nie ’n vastrapplek kry in ons omgewing nie,” sê Rethea Lombaard, ondervoorsitter van die Knysna-tak.
AfriForum se Knysna-tak het al verskeie ander gemeenskapsprojekte van stapel gestuur in die groter Knysna-omgewing, soos om die openbare badkamers by die mond van die Sedgefield-meer op te knap en in stand te hou. Die tak het ’n veiligheidsreling van ongeveer 1 km in Knysna langs die N2 reggemaak en oorgeverf.
“Ons doen graag ’n beroep op die gemeenskap om betrokke te raak, en ons te help om meer projekte soos hierdie aan te pak,” sluit Lombaard af.
Raak vandag nog betrokke, en maak ’n verskil. Stuur ’n e-pos na marthinus.erasmus@afriforum.co.za, of skakel Erasmus by 081 216 9602.