|

Sluit by AfriForum-diens aan of verbeter eie vullisverwydering, eis Bloemfontein-tak by Mangaung-metro

AfriForum het vandag, as deel van die burgerregteorganisasie se veldtog teen swak dienslewering, ’n vullisdrom by die Mangaung Metropolitaanse Munisipaliteit se kantore afgelaai en ’n vorm aangeheg vir dié metro om by AfriForum se vullisverwyderingsdiens aan te sluit. Aangesien die metro versuim om self vullisverwyderingsdienste te lewer, het die burgerregteorganisasie die munisipale bestuurder die geleentheid gegee om by ’n funksionerende vullisverwyderingsdiens aan te sluit óf hul eie dienslewering te verbeter.

Die Bloemfontein-tak se dringende beroep op die metro om betroubare vullisverwyderingsdienste aan inwoners te lewer, is nie met ope arms verwelkom nie. Tydens die aflewering van die vullisdrom is AfriForum deur ’n persoon, wat beweer dat hy ’n munisipale amptenaar is, gekonfronteer en geïntimideer.

Die burgerregteorganisasie het egter hom nie laat afskrik nie, aangesien hierdie oproep na optrede volg ná die organisasie verlede week self honderde sakke vullis uit verskeie woongebiede moes verwyder weens die metro se onvermoë om sy verpligtinge na te kom.

AfriForum het op 22 Mei binne twee ure altesaam 476 sakke vullis uit Universitas-Rif, Universitas, Wilgehof en Gardeniapark verwyder. Vullis is ook uit verskeie woonkomplekse en ’n aftreeoord in Universitas, wat ’n versorgingseenheid insluit, verwyder.

“As ’n gemeenskapsorganisasie is dit totaal onaanvaarbaar dat AfriForum vir basiese dienslewering moet instaan,” sê Christo Groenewald, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Rosestad. “Duisende rande word maandeliks vir vullisverwydering op munisipale rekeninge gehef, maar die metro het weereens bewys dat hy nie betroubaar is nie. Buiten die gebrek aan dienslewering, skep hierdie agterstand ernstige omgewings-, veiligheids- en gesondheidsrisiko’s. Dit is veral kommerwekkend waar bejaardes versorg word – hulle kan maklik siek word as gevolg van die metro se laksheid.”

AfriForum moedig inwoners aan om by ’n organisasie aan te sluit wat Bloemfontein wil verbeter. Besoek www.vullisverwydering.co.za om by hierdie gemeenskapsgedrewe vullisverwyderingsinisiatief betrokke te raak.

Inwoners wat die proses wil begin om kwytskelding van die munisipale vullisverwyderingstarief te kry, kan hier klink vir meer inligting.

“Saam kan ons ’n daadwerklike verskil maak en die waardigheid van Bloemfontein se woonbuurte herstel,” sluit Groenewald af.

Soortgelyke plasings