Slegs 51% van vullisterreine in Wes-Kaap slaag AfriForum-oudit
Net 19 van die 37 (oftewel 51%) van die Wes-Kaapse vullisterreine wat vanjaar as deel van AfriForum se jaarlikse vullisterreinoudit geoudit is, voldoen aan die mees basiese vereistes om gemeenskappe en die omgewing teen besoedeling te beskerm. Boonop kon vier van dié terreine nie daarin slaag om eens ’n nakomingspunt van meer as 10% te haal nie en al ses van die terreine wat in die Matzikama Plaaslike Munisipaliteit geoudit is, het die oudit gedop.
Die vullisterreine wat vanjaar die swakste in dié provinsie presteer het is die Klaver-terrein in die Matzikama Plaaslike Munisipaliteit met ’n nakomingspunt van 0%; die De Doorns-terrein in die Breedevallei Plaaslike Munisipaliteit (4%); die Old Place-terrein in die Knysna Plaaslike Munisipaliteit (4%) en Matzikama Plaaslike Munisipaliteit se Lutzville-terrein (10%).
AfriForum waarsku dat die swak prestasie van vullisterreine in veral die Matzikama en Hessekwa Plaaslike Munisipaliteite (waar sewe terreine geoudit is en net twee geslaag het) dui op ernstige sistemiese probleme ten opsigte van afvalbestuur in dié gebiede.
AfriForum het vanjaar 169 van die land se 544 vullisterreine, oftewel nagenoeg ’n derde van die land se terreine, geoudit. Uit die 169 terreine kon slegs een uit elke vyf terreine die oudit slaag.
“Met slegs een uit elke vyf vullisterreine wat voldoende basiese maatreëls het om die gemeenskap en omgewing teen besoedeling te beskerm, bevestig die uitslae van AfriForum se jaarlikse vullisterreinoudit weereens dat die meerderheid munisipaliteite landwyd nie in staat óf bereid is om basiese funksies van dienslewering te verrig nie,” verduidelik Marais de Vaal, samesteller van die vullisterreinouditverslag en raadgewer vir Omgewingsake by AfriForum.
Die Wes-Kaap – waar 51% van terreine wat geoudit is aan 80% of meer van die ouditvereistes voldoen het – het naas Gauteng vanjaar die beste gevaar in dié oudit. Die provinsie het ook ’n verbetering in die gemiddelde nakomingspunt aangeteken deur ’n oorhoofse verbetering van 6,6 persentasiepunte, van 59,8% in 2024 tot 66,4% in 2025, aan te teken. Daarbenewens is Gauteng en die Wes-Kaap die enigste twee provinsies waar die meerderheid vullisterreine wat geoudit is aan 80% of meer van die ouditvereistes voldoen het, en derhalwe die oudit geslaag het.
Hoewel sekere munisipaliteite in die Wes-Kaap swak vaar, het veral die Overstrand en Saldanhabaai Plaaslike Munisipaliteite baie goed presteer en al vyf stasies wat in dié twee munisipaliteite geoudit is, het die oudit geslaag.
Die agt Wes-Kaapse vullisterreine wat vanjaar die beste gevaar het en elkeen ’n nakomingspunt van 100% behaal het is:
- Gansbaai-terrein, Overstrand Plaaslike Munisipaliteit
- Gordonsbaai-oorlaaistasie, Stad Kaapstad
- Hermanus-terrein, Overstrand Plaaslike Munisipaliteit
- Langebaan-oorlaaistasie, Saldanhabaai Plaaslike Munisipaliteit
- Highlands-terrein in Malmesbury, Swartland Plaaslike Munisipaliteit
- Paarl-oorlaaistasie, Drakenstein Plaaslike Munisipaliteit
- Stellenbosch-terrein, Stellenbosch Plaaslike Munisipaliteit
- Vredenburg-terrein, Saldanhabaai Plaaslike Munisipaliteit
Marthinus Erasmus, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Suid-Kaap, benadruk dat die Old Place-vullisterrein in Knysna – een van die terreine wat vanjaar die swakste gevaar het in die provinsie – nou ’n kritieke laagtepunt bereik het. “Die rehabilitering van die besoedelde omgewing rondom die terrein sowel as die terrein self is daarom een van AfriForum se hoofdoelwitte. Ons is reeds besig om aktief en in samewerking met die Knysna Plaaslike Munisipaliteit aan dringende oplossings te werk om die ramp wat hier afspeel, te probeer beperk,” verduidelik Erasmus.
Marique van Dalen, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Boland, meen die sukses van dorpe wat uitsonderlik presteer het, moet erken word: “Ons is trots op die vullisterreine in Gansbaai, Hermanus, Stellenbosch en Gordonsbaai wat onder die agt beste terreine in die Wes-Kaap gereken word. Dit wys dat gemeenskappe en owerhede suksesvol saam kan werk waar daar die wil is.”
AfriForum sal die ouditbevindings aan die Departement van Bosbou, Visserye en die Omgewing voorlê en eis dat munisipaliteite aanspreeklik gehou word vir hul mislukte pogings om vullisterreine te bestuur. Die burgerregteorganisasie sal ook voortgaan om gemeenskapsgebaseerde oplossings te bevorder, soos sy vullisverwyderingsdiens in Bloemfontein en landswye herwinningsprojekte. “Dit is slegs deur hierdie pogings wat gemeenskappe voorspoedig sal wees ongeag die toestande waarin munisipaliteite hulself bevind,” sluit De Vaal af.