Skoleplasing-krisis wys Gauteng-onderwysdepartement se gebrek aan behoorlike beplanning, infrastruktuurontwikkeling
Die minstens 1 100 leerders in Gauteng, wat bykans ’n maand ná aanvangs van die eerste skoolkwartaal vir 2026 steeds nie in skole geplaas is nie, is ’n bewys van die Gautengse Onderwysdepartement se onvermoë om behoorlike beplanning en infrastruktuurontwikkeling te doen. Luidens Matome Chiloane, die LUR vir Onderwys in Gauteng, is die vertraging in die plasing van hierdie leerders te wyte aan vertragings in die verkryging van mobiele klaskamers. Dié leerders gaan intussen in tydelike klaskamers op die skoolterrein geplaas word, wat opnuut kommer wek oor die kwaliteit van onderrig wat hulle gaan ontvang.
Volgens AfriForum is hierdie situasie ’n direkte nagevolg van ’n gesentraliseerde plasingsproses wat te laat in 2025 aanvangs geneem het en nou leerders se akademiese onderrig in die nuwe skooljaar negatief beïnvloed. Hierdie bekommernis is verlede jaar herhaaldelik geopper en steeds wil dit voorkom of die erns van die saak nie tot die departement deurdring nie.
“Die feit dat leerders nou in tydelike klaskamers geakkommodeer moet word, kan nie as ’n volhoubare oplossing beskou word nie. Oorvol klaskamers en tydelike strukture plaas nie net druk op onderwysers nie, maar laat ook ernstige vrae ontstaan oor die gehalte van onderrig wat onder sulke omstandighede gelewer word,” sê Carien Bloem, hoof van Onderwysprojekte by AfriForum.
Benewens ’n gebrek aan gehalteonderrig, is hierdie leerders ook alreeds van die geleentheid ontneem om vanjaar ten volle aan sport- en kultuuraktiwiteite deel te neem, wat ’n kernaspek van ’n gebalanseerde en holistiese skoolervaring is. Die eerste maand van die skooljaar is dikwels bepalend vir integrasie, spanbou en die vestiging van akademiese roetines. Hierdie leerders is reeds op ’n agterstand geplaas.
Die oplossing vir hierdie probleem is om meer skole te bou en bestaande skole wat minder gewild is, se akademiese aanbod te verbeter. AfriForum sal dus voortgaan om druk op die Onderwysdepartement uit te oefen om voldoende en genoegsame skole in Gauteng op te rig, veral in hoëdruk-gebiede in die provinsie.
Die gebrek aan tydige infrastruktuurontwikkeling van skole dui op die sistemiese tekortkominge in vooruitbeplanning vir ’n probleem waarvan die departement al vir jare van bewus is. Bevolkingsgroei en migrasie na stedelike gebiede is nie nuwe verskynsels nie.
“Die toekoms van duisende leerders kan nie jaar na jaar aan administratiewe mislukkings en ’n gesentraliseerder plasingstelsel, wat duidelik nie werk nie, opgeoffer word nie. AfriForum sal voortgaan om die situasie noukeurig te moniteer en druk op die departement uitoefen om te verseker dat elke leerder toegang tot kwaliteit onderrig in ’n geskikte leeromgewing ontvang,” sluit Bloem af.



