|

AfriFees: Afrikaners laat hul stem op Moedertaaldag hoor

Deur Megan Swart

Honderde Afrikaners gaan na verwagting volgende week op die AfriForum Teater toesak om op internasionale Moedertaaldag (21 Februarie) die unieke Afrikaanse taal-en-kultuurfees, beter bekend as AfriFees, by te woon.

Minique Valverde-Scott, hoof van Projekte by AfriForum, sê dié sing-en-dans-ervaring is meer as net ’n geleentheid waar van die bekendste Afrikaanse treffers van alle tye opgevoer gaan word.

“AfriFees is ’n viering van die Afrikaanse taal, kultuur en erfenis. Dis ’n geleentheid waar ons bymekaar kan kom en ons taal met trots kan uitleef; wat is ’n beter dag om die fees aan te bied as op Moedertaaldag,” sê sy.

Navorsing uit verskeie oorde wys op die waarde van musiekmaak in jou moedertaal, asook die voordele wat dit vir kinders se ontwikkelende breine inhou. Dié musiek help nie net ’n kultuurgroep om hul identiteit uit te druk nie, maar dien ook as ’n metode om stories te vertel met woorde wat die gemeenskap intiem verstaan.

“Musiek is een van die belangrikste maniere waarop ’n taal lewendig bly,” sê Alana Bailey, AfriForum se hoof van Kultuursake.

“Wat is lekkerder as om in jou moedertaal te sing en as moedertaallirieke vir alle genres musiek beskikbaar is, kan elke moedertaalspreker dit geniet – ongeag hul ouderdom of smaak. Suiwer lirieke brei boonop die sprekers se woordeskat uit en verbeter die uitspraak van selfs tweedetaalsprekers.”

AfriForum, in samewerking met Johan Vorster, Jacomien de Wet en Snyman Musiek Produksies, het die inhoud van die keurspel saamgestel. AfriFees bestaan uit 12 tematiese keurspele wat wissel van nostalgie tot sokkiedans, en van kinderliedjies tot patriotiese treffers.

By AfriFees gaan treffers soos “Sarie Marais”, “Leeuloop”, “Toeter Skoeter”, “Stukkie van der Merwe”, “Hardekole”, “De la Rey” en vele meer deur die musiekgroep Die Broers opgevoer word. Terugsit en luister is egter nie in hierdie keurspel se DNS nie, daarom gaan die interaktiewe musiekervaring verseker dat mense saam sing, heupe swaai en hul Afrikanergees voluit vier.

“Dit is nie net vermaak nie, dit is jou mense, jou taal, jou kultuur, jou fees,” sluit Valverde-Scott af.

Soortgelyke plasings

Ons is Afrikaners