Sistemiese staatsverval kan nie met Operasie Vulindlela verbloem word – AfriForum
Operasie Vulindlela word voorgehou as die oplossing tot onder meer dienslewering, maar hierdie gesamentlik inisiatief deur die presidensie en die tesourie poog skynbaar net om jarelange staatsverval te verbloem. AfriForum het sy kommer uitgespreek oor die regering se pogings om sistemiese verval met ’n tydelike inisiatief tee te werk, in plaas daarvan om volgehoue institusionele hervorming teweeg te bring deur korrupsie en wanbestuur in staatsdepartemente die hoof te bied.
Die burgerregteorganisasie het in ’n brief aan die presidensie en die tesourie uitdruklik gevra vir ’n tydlyn vir die prioriteite soos uiteengesit in die tweede fase van Operasie Vulindlela. Hiermee saam wil AfriForum weet hoe blywende hervorming op elk van dié gebiede sal lyk.
Volgens Morné Mostert, bestuurder van Plaaslikeregeringsake by AfriForum, bestaan die bekommernis dat Operasie Vulindlela nie ’n permanente verbintenis tot hervorming is nie, maar ’n polities gedrewe inisiatief wat deur die bestaande presidensie gedryf word. Dus loop dit die risiko om geheel en al ineen te stort sodra enige wesenlike veranderinge in die regering plaasvind.
“Die fokus moet veel eerder wees om die interne uitdagings by staatsdepartemente en plaaslike munisipaliteite te pak. Dit is eintlik onsinnig dat ’n aparte ingrypingsplan (Operasie Vulindlela) op die been gebring moes word om staatsdepartemente sover te kry om hul werk te doen. Die regering het histories geen probleem daarmee om nuwe planne te beraam vir bestaande uitdagings nie, maar die rekord van werklike suksesvolle implementering van dié planne is nie so indrukwekkend nie,” sê hy.
Dit is boonop ondoeltreffend om die simptome van staatsverval te probeer behandel sonder om die oorsaak aan te raak. Dit is egter presies wat gebeur met die aankondiging van die tweede fase van Operasie Vulindlela.
AfriForum voer aan dat daar in beide fases te min fokus geplaas is op die ondoeltreffendheid van staatsdepartemente en munisipaliteite. “As daar erns gemaak wil word met hervorming, moet korrupsie heel eerste die hoof gebied word. Om te ontken dat korrupsie en wanbestuur die bron van Suid-Afrika se sukkelende staatsdepartemente en munisipaliteite is, is uiters onproduktief. Daar is geen gevolge vir oortreders nie en dus geen verbetering in dienslewering nie,” sê Mostert.
Alhoewel die punte wat Operasie Vulindlela help pak, niks nuuts is nie, verwelkom AfriForum enige verbetering aan dienslewering. Die burgerregteorganisasie maan egter dat Operasie Vulindlela nie ’n manier kan wees vir staatsdepartemente om nog minder te doen nie, maar dat ’n dieper verbintenis tot hervorming by dié departemente gekweek moet word. AfriForum sal die werking van die tweede fase van Operasie Vulindlela fyn dophou.