|

AfriForum se Teenboeliespan vat hande met Laerskool Bergland – maak leerders op praktiese wyse touwys oor boeliegedrag

Geen kind behoort te voel dat hy nêrens hoort nie. Kinders wat voel dat hulle aanvaar word, is meer geneig om vir ander op te staan en minder geneig om slagoffers van boeliegedrag te word. Met dié boodskap het AfriForum se Teenboeliespan op 31 Julie die byna 1 000 leerders van Laerskool Bergland in Mbombela (voorheen Nelspruit), Mpumalanga, geïnspireer en met praktiese vaardighede toegerus om boeliegedrag te herken, slagoffers te ondersteun en saam te bou aan ’n skoolkultuur waar elke leerder aanvaar en gewaardeer voel.

Die interaktiewe aanbieding het beklemtoon dat boeliegedrag dikwels met uitsluiting begin – wanneer iemand doelbewus eenkant gelaat, geïgnoreer of verneder word. Leerders is aangemoedig om raak te sien wanneer ’n maat alleen staan en doelbewus uit te reik deur iemand in te sluit, langs hulle te sit of bloot ’n vriendelike geselsie aan te knoop.

Hierdie eenvoudige dade van omgee kan volgens Mari-Louise Erasmus, aanbieder van AfriForum se Teenboelieprogram, ’n blywende verskil in ’n kind se lewe maak.

“Boeliegedrag begin dikwels wanneer ’n kind voel dat hy of sy nie aanvaar word nie. Daarom wil ons leerders aanmoedig om op die uitkyk te wees vir iemand wat alleen staan en doelbewus uitreik na dié maat. Om iemand in te sluit of bloot te vra om saam te speel kan meer beteken as wat ons ooit besef,” verduidelik Erasmus.

Sy hou vol dat ’n veilige skool nie net deur reëls of dissipline gebou nie, maar deur die daaglikse keuses wat leerders teenoor mekaar maak.

Jana Venter, bemarker en koördineerder by Laerskool Bergland, meen tegnologie speel ’n groot rol in boeliegedrag. “Kinders van vandag is tegnologies ingestel en besef nie altyd dat tegnologie hulle afstomp vir persoonlike interaksie nie. Herhaaldelike gesprekke oor die onderwerp skep weer bewusmaking oor sosiale boeliegedrag,” meen sy.

AfriForum moedig skole, ouers en gemeenskappe aan om saam te werk om ’n kultuur van insluiting, respek en omgee te bevorder. “Wanneer kinders weet hulle word aanvaar en raakgesien, kry boeliegedrag minder kans om wortel te skiet en word skole plekke waar elke leerder veilig kan leer en groei,” sluit Erasmus af.

Laai AfriForum se gratis teenboeliegids hier af.

Vir meer inligting oor AfriForum se Teenboelieveldtog, besoek www.teenboelie.co.za.

Word n lid

Maak n donasie

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf, Veiligheid