Samewerking nodig om veiligheid, sekuriteit in Jakarandastad op te skerp
AfriForum het ’n konstruktiewe en produktiewe vergadering met die Tshwane Metropolitaanse Munisipaliteit gehou om strategiese samewerking oor verskeie veiligheidsinisiatiewe te versterk.
Die vergadering het onder meer gehandel oor praktiese maatreëls om misdaad te bekamp en kritiesbelangrike infrastruktuur beter te beskerm.
Hier volg van die planne waarop daar ooreengestem is:
- Gesamentlike patrollies op die N4 om ysterpenlokvalle te verhoed – AfriForum weet dat voorkoming beter is as nasorg en daarom, met die oog op proaktiewe misdaadvoorkoming, sal AfriForum se buurtwagte saam met die Tshwane Metropolisie (TMPD) en ander rolspelers patrollies ry om spesifiek daarop te fokus om ysterpenlokvalle op die N4 te voorkom. Hierdie patrollies het ook ten doel om padgebruikers se veiligheid te verseker en misdadigers tot verantwoording te roep.
- Infrastruktuursekuriteit – AfriForum se takstrukture en buurtwagte het reeds verskeie hoërisikogebiede identifiseer waar kritiesbelangrike infrastruktuur kan baat by verhoogde sekuriteit. Die organisasie het sy hulpbronne – soos die organisasie se kameranetwerk wat nommerplaatherkenning (LPR) en bewegingskameras insluit – aangebied om die Tshwane-metro en TMPD te ondersteun. Sodoende kan bedreigings vroegtydig identifiseer en die hoof gebied word.
- Veiligheidssteunkringe – AfriForum beplan om gedurende 2025 minstens twee veiligheidsteukringe in Pretoria te vestig. Hierdie strukture sal samewerking tussen veiligheidsrolspelers verbeter en spoedige reaksie vergemaklik.
- ReAspana-program – Die Tshwane-metro se ReAspana-program is ook tydens hierdie vergadering bespreek en AfriForum sal hiervolgens ondersteuning bied in verskeie gemeenskappe om ’n verskil te maak. Die organisasie meen dat hierdie vennootskap ’n gedeelde verbintenis tot die verbetering van lewensgehalte en veiligheid in die streek beklemtoon.
“Hierdie samewerking tussen AfriForum en die Tshwane-metro is ’n bewys van wat deur strategiese vennootskappe bereik kan word. Deur samewerking, tegnologie en gemeenskapsbetrokkenheid te benut, sal ons ’n daadwerklike verskil maak in die strewe na ’n veiliger en beter Tshwane-metro,” sé Sampie Steinberg, hoof vir die noordstreek by AfriForum.