|

Samesprekings nodig om slaggate in Vryheid te herstel – AfriForum

Die AfriForum-tak in Vryheid het die Abaqulusi Plaaslike Munisipaliteit opnuut versoek om die slaggatprobleem in Vryheid saam met die burgerregteorganisasie aan te pak. Dit volg op die voortdurende agteruitgang van die padinfrastruktuur en die munisipaliteit se volgehoue versuim om dit na behore te onderhou.

“Ons strate is in so ’n bedenklike toestand dat gemeenskapslede by ’n onlangse openbare vergadering ingestem het om ’n skenking te maak sodat die plaaslike AfriForum-tak self die slaggate regmaak,” sê Linda de Jager, voorsitter van AfriForum se Vryheid-tak.

Die AfriForum-tak het selfs in Maart vanjaar aan die plaaslike munisipaliteit aangedui hoeveel dit sal kos om elke slaggat te herstel, maar elke pleidooi val op dowe ore. Die burgerregteorganisasie het daarom die munisipaliteit opnuut versoek om hande te vat sodat die padinfrastruktuur weer in ’n rybare en veilige toestand omskep kan word.

“AfriForum het al in verskeie dorpe suksesvol saam met munisipaliteite gewerk om slaggate te herstel. Dit is daarom baie moontlik om só ’n projek in Vryheid uit te rol,” sê Eugene van Aswegen, AfriForum se provinsiale koördineerder vir KwaZulu-Natal.

AfriForum nooi die gemeenskap van Vryheid uit om deel te raak van hierdie projek en ’n aktiewe bydra te lewer tot die onderhouding van dié dorp. Klik hier vir meer inligting.

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf