Ruhan du Toit tref diep met nuwe lied oor Wolraad Woltemade
Deur Ilze Nieuwoudt
Diep woorde, daardie diep stem en die diepste verlange na ’n pa – daarin lê die trefkrag van Ruhan du Toit se nuwe lied “Pa vir Kersfees” wat gisteraand op AfriForumTV en YouTube vrygestel is. Dié lied kom oorspronklik uit die pen van die Laeveldse liedjieskrywer Henry-John Williams en is verwerk deur Stephan Hugo Botha, die man agter treffers soos “Wys jou vleis” en “Ek bly ’n Boer”. Dit stel ook die talent van Hoërskool Garsfontein se koor, onder leiding van Ruan Odendaal, ten toon.
In “Pa vir Kersfees” kry die Wolraad Woltemade-heldeverhaal waarlik lewe. Die ou bekende verhaal oor daardie noodlottige dag in 1773, die skip De Jonge Thomas wat weens die Kaapse storms in Tafelbaai gestrand het, en Woltemade se heldedaad waarin hy – op die rug van sy perd, Vonk – keer op keer die see ingaan om nog drenkelinge te red, word met kleurvolle, rou emosie oorvertel, maar met ’n kinkel. Want hoewel daar op dié dag ’n held na vore getree het, het ’n seun ook sy pa verloor.

Dit is juis hierdie unieke perspektief van die byna geykte verhaal van Woltemade, soos gesien deur die oë van Woltemade se seun, Christiaan Ludwig, wat in “Pa vir Kersfees” die storie, soos dit al generasies lank oorvertel word, op sy kop keer. Du Toit se monoloog ter inleiding van die musiekvideo, stel dit duidelik: “Die meeste van ons het al iemand verloor na wie ons opgekyk het. ’n Held. Daardie dag in Tafelbaai het Suid-Afrika ’n held gekry, maar Wolraad Woltemade se seun het sy pa verloor. Terwyl almal ’n held gesien het, het hy net sy pa sien verdwyn.”
Die ontstaan van “Pa vir Kersfees”
Williams het die oorspronklike weergawe van “Pa vir Kersfees” jare gelede vir ’n vrouestem vir ’n blyspel geskryf. Toe hy die lied aan Botha voorhou, het een spesifieke reël in die koor sy vriend diep geraak.
Oor dáárdie reël (“Vir Kersfees soek my pa terug”) vertel Botha dat dit sy verlange na sy eie pa, wat twee jaar tevore aan kanker gesterf het, aangewakker het.
Die idee om die ander verse te herskryf en te koppel aan ’n Suid-Afrikaanse legende, het hierop gevolg. Die verhaal van Woltemade en sy seun het boonop soos ’n handskoen gepas en ná ’n middernagtelike skryfsessie en Williams se oorspronklike koor en melodie het Botha gewéét hulle het iets beet.
Dié lied het egter gesmeek vir ’n ryk en diep manstem, en daarom was Du Toit die ideale keuse, verduidelik Botha.

“Pa vir Kersfees” en die verhaal daaragter wat verdien om weer gehoor te word, het Du Toit dadelik oorgehaal om by die projek betrokke te raak. “Ek was nog altyd aangetrokke tot liedjies waarvan die betekenis verder strek as die letterlike woorde. Hierdie lied vertel ’n spesifieke verhaal, maar die emosie daarvan raak iets wat soveel van ons verstaan: die verlange na iemand wat jy verloor het … dit is juis daardie leemtes wat ’n mens elke dag op verskillende maniere ervaar, wat hierdie lied vir my so besonders maak. Dit gee woorde aan die verlange om iemand net weer ’n keer te sien, met hulle te praat of vas te hou,” verduidelik hy.
“Pa vir Kersfees”: Die musiekvideo
Die musiekvideo is in samewerking met AfriForum en AfriForumTV se tegniese span by die AfriForum Teater opgeneem deur die kinomatograaf Philip van Zyl, met Elrich Yssel as regisseur. Yssel is ’n rolprentvervaardiger, regisseur en redigeerder bekend vir onder meer die kortfilm Begrond, die reeks De Kleine Griet en die dokumentêr Tainted Heroes.
Die span se fyn aanvoeling vir die diep menslike verhaal wat deur “Pa vir Kersfees” vertel word, en die gebruik van moderne tegnologie om tonele van meer as 250 jaar gelede getrou te herskep, sorg vir ’n skouspel van sand, see en storms.
“Pa vir Kersfees” is vanaf vandag (23 Oktober 2026) beskikbaar op YouTube en ander musiekstromingsplatforms.



