|

Rommel in Bethlehem-sakegebied skep ernstige gesondheids- en veiligheidsrisiko’s, waarsku AfriForum

Die deurlopende tekort aan betroubare vullisverwydering in die Bethlehem-sakegebied hou ernstige gesondheids- en veiligheidsrisiko’s vir inwoners en sake-eienaars in, waarsku die burgerregteorganisasie AfriForum. Die organisasie het vandeesweek weer ’n hernieude beroep op die Dihlabeng Plaaslike Munisipaliteit gedoen om dringend opgehoopte vullis in dié deel van die stad te verwyder en weeklikse vullisverwydering in die sakegebied as ’n prioriteit te hanteer.

AfriForum se Bethlehem-tak het gedurende Desember 45 sakke vullis op die hoek van Lamondweg en Malanstraat in die Bethlehem-sakegebied opgeruim. Dit is reeds meer as twee maande later en dié gemerkte sakke vullis is steeds nie deur die munisipaliteit verwyder nie.

Dié kruising is egter nie die enigste waarby daar duidelik geen munisipale vullisverwydering gedoen word nie, verduidelik Christa Ikking, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Hoogland. “Die situasie in die sakegebied verswak by die dag. Die munisipaliteit verwyder net eenvoudig nie die opgehoopte vullis nie. Die opgehoopte vullis op veral Greystraat se kruisings met High-, Roux-, Louw- en Malanstraat is tekenend van die vullisverwyderingsprobleme in Bethlehem.”

Benewens die gesondheidsrisiko’s wat die opgehoopte vullis vir die gemeenskap inhou, benadruk Ikking dat brandstigting van vullis deur vandale moontlike veiligheidsrisiko’s vir nabygeleë ondernemings kan veroorsaak.

“Die munisipaliteit moet nou dringend ingryp by dié probleem. ’n Skoner Bethlehem is in die belang van almal in dié stad,” verduidelik Ikking.

Sy beklemtoon dat AfriForum sal voortgaan om druk op die munisipaliteit te plaas om hul verantwoordelikhede na te kom en in die belang van die stad op te tree.

Soortgelyke plasings