DNS_DNA
|

Private laboratoriums die oplossing vir prosessering van DNS-agterstand, sê AfriForum

AfriForum het die portefeuljekomitee oor polisie versoek om die lewensvatbaarheid daarvan te ondersoek om private laboratoriums en universiteite se forensiese fasiliteite te gebruik om DNS-bewysstukke in strafsake te prosesseer. Dit volg nadat die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) se forensiese wetenskap-laboratorium weereens ’n agterstand in die prosessering van DNS van 140 000 sake oorskry het. Hierdie agterstand laat duisende slagoffers sonder geregtigheid en veroorsaak dat gewelddadige misdadigers vryelik rondbeweeg.

Ten spyte van die SAPD se herhaalde versekering dat die agterstand opgelos sal word, het die krisis buite beheer geraak. Dienskontrakte vir forensiese toerusting het verval en word nie hernu nie, tenders het verval en deurslaggewende forensiese instrumente staar stof op. Dit het selfs meer as ’n dekade geneem om sommige DNS-bewysstukke net in die stelsel vas te vang.

AfriForum glo dat privatisering die enigste logiese oplossing is. Die regering het herhaaldelik bewys dat hy nie in staat is om forensiese dienste doeltreffend te bestuur nie en tensy daar dringend opgetree word, kan duisende strafsake van die hofrol geskrap word weens mislukkings in die prosessering van bewysstukke. Universiteite en private forensiese instellings in Suid-Afrika beskik reeds oor die nodige kundigheid en infrastruktuur om die krisis te help verlig, maar tog het die SAPD vorige aanbevelings geïgnoreer om met hulle saam te werk.

“Hierdie mislukking van die SAPD is ’n direkte bedreiging vir geregtigheid,” sê Jacques Broodryk, AfriForum se hoofwoordvoerder oor Gemeenskapsveiligheid. “As die regering nie in staat is om die werk te doen nie, moet hy diegene wat dit wel kan doen, toelaat om in te tree. Elke dag wat hierdie agterstand toeneem, loop misdadigers vryelik rond en word slagoffers geregtigheid geweier. Ons doen ’n beroep op onmiddellike ingryping om te verseker dat DNS-bewysstukke vinnig verwerk word en geregtigheid geskied.”

AfriForum sal voortgaan om oplossings te beywer wat ’n funksionele en doeltreffende forensiese stelsel verseker en doen ’n beroep op die portefeuljekomitee oor polisie om spoedig op te tree om hierdie dringende krisis op te los.

Soortgelyke plasings