|

Pretoria-wateronderbreking: AfriForum-noodwaterpunte gereed om gemeenskappe te help

AfriForum het verskeie noodwaterpunte in Pretoria voorberei waar inwoners tydens die wateronderbreking, wat van Donderdag 29 Mei tot Maandag 2 Junie sal duur, water kan kry. Dié wateronderbreking is deur Rand Water aangekondig en sal groot dele van Pretoria-Oos en omliggende areas raak.

Tydens hierdie wateronderbreking sal Rand Water en die Tshwane Metropolitaanse Munisipaliteit noodsaaklike herstelwerk aan die waterinfrastruktuur verrig en watertoevoer na verskeie reservoirs moet dus afgesny word.   

Alhoewel AfriForum sy dank vir die herstelwerk bevestig, benadruk die organisasie dat proaktiewe optrede, deurlopende instandhouding en goeie samewerking met die privaatsektor en gemeenskapsorganisasies noodsaaklik is om grootskaalse krisisse te voorkom.

“Die metro het ’n geskiedenis van rondhardloop van krisis na krisis eerder as om proaktief op te tree – of dit met instandhouding of kommunikasie oor kwessies is, spring die metro gewoonlik eers aan die werk sodra die krisis vlamvat. Dit is waarom AfriForum vooruit beplan en proaktief optree, om seker te maak dat gemeenskappe goed georganiseer is, veerkragtig is en reg staan vir enigiets wat oor hulle pad kan kom. Ons noodwaterpunte is net een voorbeeld hiervan,” sê Arno Roodt, AfriForum se distrikskoördineerder vir Groter Pretoria-Suid.

AfriForum se noodwaterpunte is op die volgende plekke en tye beskikbaar:

  • Moreletapark: Woodglen Kompleks – Wys op kaart (16h30-20h00)
  • Garsfontein: NG Kerk Valleisig – Wys op kaart (07h00-19h00)
  • Moot:

Laerskool Pierneef – Wys op kaart (24 uur)

Laerskool Villieria  – Wys op kaart (24 uur)

Dorpskantoor – Wys op kaart (24 uur)

Laerskool Wonderboom – Wys op kaart (24 uur)

AfriForum waarsku dat dié wateronderbreking slegs ’n voorsmakie is van die grootskaalse infrastruktuurkwessies wat die Tshwane-metro in die gesig staar en doen ’n beroep op gemeenskappe om saam met AfriForum te werk om die nodige voorsorgmaatreëls en gebeurlikheidsplanne in plek te kry.

“Georganiseerde gemeenskappe kan enige krisis oorleef – daarom is dit belangrik vir individue, gesinne en ondernemings om hande te vat met organisasies soos AfriForum om hulself staatsbestand te maak. Die metro laat mens gewoonlik in die steek, maar sterk gemeenskappe doen selde.”

Indien jy meer oor die noodwaterpunte wil leer, of selfs een in jou gemeenskap wil laat oprig, kontak Roodt by arno.roodt@afriforum.co.za. Besoek www.wordlid.co.za om by jou naaste tak betrokke te raak en sodoende ’n daadwerklike verskil in jou gemeenskap te maak.

Soortgelyke plasings