|

Pretoria-kragkrisis: AfriForum vat metro vas oor gebrek aan deursigtigheid

Klankgreep: Arno Roodt (Afrikaans)

AfriForum het vandeesweek ’n interne appèl ingedien teen die Tshwane Metropolitaanse Munisipaliteit se besluit om die burgerregteorganisasie se aansoek ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting (PAIA) rakende die voortslepende kragkrisis in Pretoria, van die hand te wys. AfriForum voer aan dat die metro onvoldoende redes verskaf het, soos vereis in die betrokke wetgewing, en daarom onregmatig opgetree het toe hy toegang tot die aangevraagde inligting geweier het.

AfriForum het op 21 Mei ’n PAIA-aansoek ingedien om toegang tot die metro se substasielys, instandhoudingskedules, kontrakteurslys en instandhoudingsverslae te verkry. Dit was ten doel om die metro verantwoordbaar te hou vir die instandhouding van dié kritieke infrastruktuur.

“Hierdie PAIA-aansoek is ingedien om die publiek se belange en lewensbestaan te beskerm, daarom is die reg op toegang tot inligting nie onderhandelbaar nie. Dit is veral waar in gevalle soos dié waar inwoners so direk deur die metro se gebrek aan instandhouding en deursigtigheid geraak word,” sê Arno Roodt, AfriForum se distrikskoördineerder vir Groter Pretoria-Suid.

Groot dele van Pretoria gaan die afgelope tyd gebuk onder ernstige en langdurige kragonderbrekings – dikwels as gevolg van swak beplanning, gebrekkige instandhouding en kabeldiefstal. Ondanks bekommernisse oor die toestand van die Tshwane-metro se kraginfrastruktuur en dié metro se wetlike verpligtinge, het die metro nietemin volhou dat hy sy reg voorbehou om “nie nou in te stem tot die [PAIA-]versoek nie”.

“Dié vae verduideliking is teenstrydig met die relevante wetgewing en artikel 32 van die Grondwet én kenmerkend van ’n munisipaliteit wat iets probeer wegsteek. Die publiek het ’n reg om te weet waarom kraginfrastruktuur brand en wie verantwoordelik gehou word vir die feit dat hulle bykans weekliks sonder krag sit,” sê Roodt.

Die burgerregteorganisasie maak dit in sy appèl duidelik dat selfs al sou enige van die relevante inligting wat aangevra is onder die PAIA-wet se uitsonderings val, dit steeds in openbare belang is om die inligting bekend te maak. Volgens Roodt sal die verskeie ongerymdhede rakende die onklaarraking van substasies slegs end kry as lig daarop gewerp word.

“Dit is juis waarom AfriForum veg vir administratiewe deursigtigheid, die oprigting van veiligheidskameras by substasies en die metro direk verantwoordbaar hou vir hierdie ernstige diensleweringsgebreke.”

AfriForum sal verdere stappe doen, insluitend ’n klag by die Inligtingsreguleerder lê, indien die Tshwane-metro nie die inligting voor 22 Augustus bekend maak nie.

Soortgelyke plasings