Parys-tak vul 80 slaggate om strate om skole weer rybaar te maak
Die AfriForum-tak in Parys het die afgelope Saterdag strate in die omgewing van plaaslike skole weer rybaar gemaak deur altesaam 80 slaggate te herstel. Sewe volwassenes en ’n kind het vir drie uur lank met 60 sakke teer gewerk om dié slaggate te vul. Die tak het veral gefokus op die enorme slaggate wat in Schilbachstraat en Eerstelaan gevorm het, asook die slaggate by die T-aansluiting op Van Collerstraat.
Volgens Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier, is die meeste strate in Parys in ’n haglike toestand omdat die Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit dit nie gereeld onderhou nie. Boonop ontbreek ander noodsaaklike dienslewering op die dorp, soos krag- en waterverskaffing, wat beteken dat die herstel van slaggate nóg minder prioriteit geniet.
“Dit is onbillik dat inwoners belasting betaal vir die instandhouding van die dorp en geld opdok vir ander munisipale fooie, maar hulle steeds self moet inspring om die dorp se strate in stand te hou,” sê Pretorius. “Dit is egter nie in AfriForum se aard om hande gevou te sit en te kla oor die munisipale verval nie. Dit is daarom prysenswaardig dat die plaaslike tak en inwoners besluit het om self iets aan die verval te doen.”
Volgens Schalk Burger, voorsitter van AfriForum se Parys-tak, ontvang die tak só gereeld navrae van inwoners om slaggate te herstel, dat dit onmoontlik is om alles self te finansier en te doen.
“Die probleem is so omvangryk dat die plaaslike AfriForum-tak nie elke slaggat na behore kan vul nie. Die tak het daarom probeer om van die grootse gate in van die besigste strate te herstel sodat voertuie minstens nie erge skade opdoen nie. As elke inwoner op die dorp egter hande vat met AfriForum, kan daar ongetwyfeld groot veranderinge op die dorp gebring word,” sê Burger.


AfriForum is reeds in die proses om daadwerklike verandering in Parys teweeg te bring in die vorm van ’n hofaansoek oor die gebrekkige dienslewering. Die burgerregteorganisasie het in Desember verlede jaar ’n dringende aansoek by die Bloemfonteinse Hooggeregshof ingedien waarin intervensie ingevolge artikel 139 van die Grondwet versoek is. Hiervolgens kan ’n provinsiale uitvoerende gesag intree en die munisipaliteit onder administrasie plaas as dit nie sy pligte nakom nie. AfriForum versoek onder meer oorsig van die waterwerke sodat die bevoegdheid van werkers op die aanleg gemonitor kan word. Die burgerregteorganisasie wag steeds op uitspraak in dié saak.
