|

Uitspraak voorbehou in AfriForum se Mangaung-vullisverwyderingsaak

Jaco Grobbelaar (Afrikaans)

AfriForum se hofsaak teen die Mangaung Metropolitaanse Munisipaliteit se voortslepende gebrek aan vullisverwyderingsdienste in Bloemfontein het gister in die Hooggeregshof in Bloemfontein gedien, waar uitspraak voorbehou is.

Die saak volg ná jare se gebrekkige en onbetroubare vullisverwydering waartydens inwoners verplig is om munisipale tariewe vir dié diens te betaal, selfs waar die diens geensins of wisselvallig gelewer word.

AfriForum voer aan dat inwoners nie verplig behoort te word om vir ’n diens te betaal wat die Mangaung-metro nie lewer nie en dat inwoners, waar die munisipaliteit nie in staat is om die diens behoorlik te lewer nie, die keuse moet hê om van ’n alternatiewe diensverskaffer gebruik te maak.

Die burgerregteorganisasie probeer sedert 2020 om die probleem met die metro uit te klaar en honderde aansoeke om kwytskelding van die munisipale vullisverwyderingstarief is met AfriForum se hulp ingedien, maar die munisipaliteit het versuim om hierdie aansoeke behoorlik af te handel.

Die omvang van die probleem het AfriForum ook genoop om self op verskeie geleenthede vullis namens inwoners te verwyder om die gesondheids- en omgewingsgevare wat met die ophoping van afval gepaardgaan, te beperk.

“Dit is onaanvaarbaar dat inwoners jaar ná jaar vir ’n diens moet betaal wat nie konsekwent gelewer word nie. Sedert hierdie hofgeding begin het, het vullisverwydering ’n groot probleem in Bloemfontein gebly en kon die Mangaung-metro nie daarin slaag om ’n betroubare en volhoubare diens te lewer nie,” sê Jaco Grobbelaar, AfriForum se hoof van die sentraalstreek.

“AfriForum glo dat die hof se uitspraak duidelikheid sal bring oor die regte van inwoners wat vir dienste betaal wat nie gelewer word nie. Dis eenvoudig: Bloemfontein se inwoners moet ’n behoorlike, volhoubare vullisverwyderingsdiens ontvang as daar van hulle verwag word om vir die diens te betaal.”

AfriForum het die hof onder meer versoek om te verklaar dat inwoners nie geldelik aanspreeklik behoort te wees vir vullisverwyderingsdienste wat nie deur die munisipaliteit gelewer word nie en dat hulle van ’n alternatiewe diensverskaffer gebruik kan maak. Die organisasie het ook versoek dat die munisipaliteit gelas word om oor die uitstaande vrystellingsaansoeke te beslis.

AfriForum sal die uitspraak bestudeer sodra dit gelewer word en die implikasies daarvan met inwoners kommunikeer.

Word ’n lid

Maak ’n donasie

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf