Oudtshoorn-tak dien interne appèl in ná munisipaliteit swyg oor munisipale bestuurder
Die AfriForum-tak in Oudtshoorn het vandag ’n interne appèl teen die Oudtshoorn Plaaslike Munisipaliteit ingedien nadat dié munisipaliteit versuim het om op ’n aansoek te reageer wat in April ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting (PAIA) ingedien is. Die burgerregteorganisasie het in die aanvanklike aansoek deursigtigheid geëis oor die aanstelling van Mkhululi Yekani as munisipale bestuurder. Ondanks die munisipaliteit se voorneme om ’n deursigtige aanstellingsproses te volg, het AfriForum nog geen terugvoer op sy vrae oor Yekani se geskiktheid vir dié posisie ontvang nie.
“As die munisipaliteit nie eers daartoe in staat is om op ’n PAIA-aansoek te reageer nie, sidder ons om te dink hoe daar te werk gegaan word om munisipale amptenare te keur en aan te stel,” sê Marthinus Erasmus, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Suid-Kaap.
Nadat die nuwe munisipale bestuurder se permanente aanstelling in April aangekondig is, het AfriForum hom tot die burgemeester gewend om inligting rakende die aanstellingsproses en sy voldoening aan die wetlike vereistes van die pos, te versoek. Die burgemeester se kantoor het egter geweier om die inligting te verskaf en AfriForum na die Wes-Kaapse LUR vir Plaaslike Regering, Omgewingsake en Ontwikkelingsbeplanning, verwys.
AfriForum het nietemin op 23 April die burgemeester se kantoor besoek en ’n PAIA-aansoek ingedien, asook kennisgewings per e-pos aan beide die burgemeester en die LUR se kantore gestuur. Dié versoek moes volgens wetgewing binne 30 dae beantwoord word, maar steeds is geen reaksie ontvang nie. AfriForum het daarom ’n interne appèl ingedien om die munisipaliteit te dwing om op hierdie PAIA-versoek te reageer.
AfriForum poog sedert September verlede jaar om in gesprek te tree met Yekani, wat toe as munisipale bestuurder waargeneem het, oor verskeie diensleweringskwessies in die munisipale gebied, maar Yekani het alle versoeke vir vergaderings bloot geïgnoreer.
“Dit is ’n kommerwekkende patroon van minagting wat die munisipaliteit weer ten toon stel. Inwoners het die reg om te weet watse amptenare hulle verteenwoordig, daarom is dit van uiterse belang dat die munisipaliteit deeglik met amptelike prosesse omgaan om orde te handhaaf,” sê Erasmus.
AfriForum sal voortgaan om as ’n waghond vir burgerregte op te tree en te verseker dat inwoners se regte beskerm word.
Sluit vandag nog by AfriForum se Oudtshoorn-tak aan. Stuur ’n e-pos na marthinus.erasmus@afriforum.co.za of skakel 081 216 9602 vir meer inligting.