OPOD erken: Vrees kelder ondersoek na beweerde korrupte polisiebeamptes in moordsaak
Die Onafhanklike Polisieondersoekdirektoraat (OPOD) het erken dat hy nie die vermoë het om georganiseerde misdaad en gewelddadige misdadigers te hanteer nie. OPOD het na bewering vir die familie van die vermoorde Emmanuel Mbense (52) gesê dat beweerde bedreigings op ondersoekers se lewens een van die redes is vir die vertraging in die saak wat al byna vier jaar duur. Mbense is op 15 April 2022 in Brakpan doodgemartel, na bewering deur lede van die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD), Ekurhuleni Metropolisie, en privaat sekuriteitsbeamptes. AfriForum se privaatvervolgingseenheid verteenwoordig Mbense se familie. Die besonderhede van die moord het verlede jaar na vore gekom tydens Marius van der Merwe, ook bekend as Getuie D, se getuienis voor die Madlanga-kommissie van ondersoek. Van der Merwe, ’n privaat sekuriteitsbeampte, is op 5 Desember 2025 vermoor.
Mbense se familie het op 18 November 2025 met AfriForum se privaatvervolgingseenheid konsulteer, vier dae ná Van der Merwe oor die besonderhede van Mbense se marteling en moord getuig het. Van der Merwe het erken dat hy deelgeneem het aan die marteling en dat hy Mbense met ’n afgebreekte tafelpoot vasgepen het en hom ondervra het terwyl ’n SAPD-lid hom versmoor het. Van der Merwe beweer dat hy deur diegene wat by die moord betrokke was, aangesê is om ná die tyd van Mbense se liggaam ontslae te raak in ’n dam.
Nadat die privaatvervolgingseenheid in Desember 2025 aan OPOD geskryf het, het ’n ondersoekbeampte, sonder die privaatvervolgingseenheid se wete, met Mbense se familie vergader en weer vorige beloftes aan hulle herhaal en gesê dat die ondersoek op ’n gevorderde stadium is en dat daar binnekort arrestasies gemaak sal word. Volgens die familie het die ondersoekbeampte verduidelik dat hulle vrees vir hul lewens en privaatsekuriteit nodig het ten einde hul werk te kan doen.
Adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se privaatvervolgingseenheid, het in ’n onlangse skrywe aan OPOD gevra of daar net aanvaar moet word dat OPOD nie in staat is om “gevaarlike” misdadigers te ondersoek en in hegtenis te neem nie.
Nel beklemtoon dat indien die getuienis, soos dit aan die Madlanga-kommissie van ondersoek voorgelê was, waar is dan het OPOD ’n moontlike artikel 204-getuie gehad wat gevrees het vir sy lewe, asook OPOD ondersoekers wat doodsdreigemente ontvang het en ’n moordverdagte wat intussen vermoor is. Desnieteenstaande het OPOD ongeag alles steeds misluk om daadwerklik op te tree teen die verdagtes. Ná drie jaar is daar steeds geen verdagtes in hegtenis geneem nie en ’n moontlik artikel 204-getuie, is vermoor.
Die privaatvervolgingseenheid oorweeg klagtes van regsverydeling wanneer die werklike redes vir die vertraging duidelik word.
Die privaatvervolgingseenheid het ook beeldmateriaal gesien waar dit blyk nog ’n insident van marteling, of “tubing”, te wees – hierdie keer van ’n vrou. Dit is nie duidelik wanneer hierdie video gemaak is nie, maar indien dit ná Mbense se moord plaasgevind het beteken dit dat OPOD se versuim om op te tree daartoe gelei het dat meer mense aan marteling en moontlike dood blootgestel is. Die privaatvervolgingseenheid het hierdie aspek in sy onlangse korrespondensie aangeroer.
Volgens Barry Bateman, woordvoerder vir AfriForum se privaatvervolgingseenheid, het ondersoekers hul plig om sonder vrees te ondersoek versaak as hulle afgeskrik word deur dreigemente, en is misdadigers eintlik in effek nou onaantasbaar. “Dit is juis omdat hulle gewelddadig is dat hulle onmiddellik in hegtenis geneem moet word en in die hof moet verskyn, waar bewerings van bedreigings teenoor ondersoekers voorgelê en beproef kan word en waar verdagtes in aanhouding kan bly tot die verhoor afgehandel is, indien nodig. Dit is skandelik dat ’n ondersoeker ’n slagoffer se familie meedeel dat die moordverdagtes nog op vrye voet is omdat die ondersoekers te bang is om hul werk te doen.”
“Die privaatvervolgingseenheid is ook bekommerd oor die impak wat Van der Merwe se moord sal hê op die kanse van ’n suksesvolle vervolging, en het reeds weer vir OPOD gevra om ’n betekenisvolle opdatering oor die status van die saak aan Mbense se familie te gee en op te hou om leë beloftes te maak wat net vir hulle verdere ellende sal veroorsaak,” sluit Bateman af.



