Opgeblaasde kragpryse kan nie Eskom se finansiële risiko teëwerk, maan AfriForum
AfriForum het skriftelike kommentaar by die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika (Nersa) ingedien waarin die burgerregteorganisasie waarsku dat Eskom se huidige tarief- en regulatoriese aannames die risiko loop om die koste van Eskom se bestuursmislukkings onregverdig op kragverbruikers oor te skuif. Hierdie voorlegging vorm deel van Nersa se nuwe openbare deelnameproses na aanleiding van die Hooggeregshof in Pretoria se besluit om sleutelelemente van Eskom se veeljarige tariefbepaling tersyde te stel.
AfriForum se kommentaar fokus veral op die gebruik van die geweegde gemiddelde kapitaalkoste, die waardasie van Eskom se regulatoriese batebasis en die hantering van verouderende opwekkingsbates. AfriForum voer aan dat hierdie elemente, wanneer dit gekombineer word, ’n oneweredige en saamgestelde impak op elektrisiteitspryse het, met langtermyn gevolge vir huishoudings, ondernemings en die breër ekonomie.
Die kern van AfriForum se voorlegging is die beginsel dat risiko in ’n gereguleerde monopolie billik toegeken moet word. Verbruikers het geen beheer oor Eskom se beleggingsbesluite, operasionele prestasie of bestuursmislukkings nie en geen vermoë om ’n alternatiewe verskaffer te kies nie. Om toe te laat dat Eskom se verhoogde risikoprofiel deur ’n hoër geweegde gemiddelde kapitaalkoste ten volle in tariewe geprys word, vereis effektief dat verbruikers Eskom se wanprestasie onderskryf.
AfriForum lig verder uit dat Eskom se regulatoriese aannames toenemend verwyder word van Suid-Afrika se geïntegreerde hulpbronplan. Terwyl die nasionale energiebeleid minder afhanklikheid van Eskom se steenkoolgebaseerde opwekkingsvloot, verhoogde mededinging en ’n oorgang na hernubare energie in die vooruitsig stel, behandel Eskom se batewaardasies en waardeverminderingsaannames steeds bestaande opwekkingskapasiteit asof dit ten volle benut, lewensduur verleng en op ’n soortgelyke basis vervang sal word. AfriForum waarsku dat hierdie benadering die risiko loop om verbruikers vir bates te laat betaal wat nie in lyn is met die land se toekomstige energiestelsel nie.
Ernstige vrae word ook geopper rakende die hantering van groot kapitaalprojekte soos Medupi en Kusile. AfriForum voer aan dat slegs omsigtig goedgekeurde kostes vir regulatoriese doeleindes erken moet word en dat verbruikers nie verplig moet word om te betaal vir koste-oorskrydings, vertragings en die uitkringeffek van projekmislukkings deur hoër tariewe en gewaarborgde opbrengste nie.
“Stygende elektrisiteitspryse kan nie die standaardoplossing vir Eskom se finansiële en operasionele probleme wees nie. As Eskom nie rekeningkundige winste kan toon nie en terselfdertyd aanvoer dat dit so ’n hoë risiko loop dat dit hoër gewaarborgde opbrengste verdien, is iets fundamenteel verkeerd. Verbruikers moet nie gestraf word vir mislukkings wat hulle nie veroorsaak het nie,” sê Morné Mostert, bestuurder vir Plaaslikeregeringsake by AfriForum.
AfriForum kritiseer ook die gebrek aan duidelikheid rondom batewaardasies en -berekeninge. Dit is spesifiek met betrekking tot die bates wat van werk onder konstruksie na kommersiële bedrywighede oorgedra word. Die voortgesette insluiting van bates sonder behoorlike waardasies is ook voortdurend ’n bron van kommer. Verder word daar geen melding gemaak van die versuim om uitstaande munisipale skuld op so ’n manier aan te pak dat betalende verbruikers beskerm word nie. Volgens AfriForum blaas hierdie kwessies Eskom se batebasis verder op en vergroot dit die impak van ’n reeds verhoogde geweegde gemiddelde kapitaalkoste.
“Elektrisiteit is ’n noodsaaklike diens en Eskom het ’n gereguleerde monopolie oor hierdie diens. Dit plaas ’n hoër plig op Nersa om openbare belange te beskerm. Risiko wat geskep word deur swak bestuur, beplanningsmislukkings en swak beleggings kan nie bloot deur komplekse regulatoriese formules op verbruikers afgeskuif word nie,” voeg Mostert by.
AfriForum doen daarom ’n beroep op Nersa om ’n meer konserwatiewe, vooruitskouende en beleidsgerigte benadering te volg wanneer Eskom se inkomstevereistes heroorweeg word. Regulatoriese besluite moet dalende vraag, toenemende mededinging in opwekking en die realiteite van die energie-oorgang weerspieël, eerder as om aan te neem dat die toekoms bloot die verlede sal herhaal.
AfriForum benadruk dat betekenisvolle openbare deelname noodsaaklik is om vertroue in die regulering van krag te herstel en te verseker dat Suid-Afrikaners nie gedwing word om hoër pryse te betaal om te vergoed vir regulatoriese en institusionele mislukkings nie. AfriForum sal die proses noukeurig monitor en sal nie huiwer om verdere stappe te doen om die belange van kragverbruikers te beskerm nie.



