|

Oos-Kaapse hoërskoolleerders wys hul staal by Dink of Sink- onvoorbereidedebatskompetisie

AfriForum se Dink of Sink-span het op 17 Mei die tweede van ses provinsiale uitdunrondes vir hoërskooldebatteerders aangebied. Dié uitdunronde vir hoërskoolleerders aan die Oos-Kaap het by die Hoërskool Framesby in Gqeberha plaasgevind. Die Dink of Sink-onvoorbereidedebatskompetisie vir hoërskoolleerders gee belowende jong debatteerders die kans om hul vaardighede op die proef te stel.

Die doel van die kompetisie is om Afrikaanse debatkuns op laerskool-, hoërskool- en universiteitsvlak te bevorder, terwyl dit ook ’n noodsaaklike vaardigheid aanleer wat deelnemers in hul toekomstige beroepslewe sal bevoordeel.

Altesaam 60 leerders van vyf hoërskole in die Oos-Kaap het aan die kompetisie deelgeneem. Die deelnemende skole was Hoërskool Pearson, Hoërskool Framesby en Hoërskool DF Malherbe in Gqeberha, Hoërskool Nico Malan in Humansdorp, en Die Hoërskool Brandwag in Kariega. Die 20 deelnemende spanne het elk drie debatte oor verskeie aktuele onderwerpe in hul verwysingsraamwerk gevoer.

“Die leerders het hulself uitstekend van hul taak gekwyt deur met goed voorbereide, logies-opgeboude argumente en sterk teenargumente te debatteer. Hulle het selfvertroue uitgestraal met oortuigende lyftaal, helder stemgebruik en ’n passievolle oortuiging in hul standpunte. Dit het hul debatsvaardighede en kritiese denkvermoë duidelik beklemtoon,” sê Nicolene Müller, AfriForum se koördineerder vir Onderwys in die suidstreek.

Hoërskool Framesby (span 1) se Minette van Zyl, Jani van Heerden en Jemima Oosthuizen is as die wenners in die junior kategorie aangekondig terwyl Hoërskool Framesby (span 2) se Micaela Potgieter, Bernard Janse van Rensburg en Danté Fourie as die naaswenners gekroon is.

In die senior kategorie het Hoërskool Pearson (span 1) se Joubert Steyn, Anke Rossouw en Lee Strydom koning gekraai terwyl Hoërskool Framesby (span 1) se Therese Otto, Alouise Vosloo en Alexia Meiring as die naaswenners aangekondig was.

“Die hoërskooldebatspanne het ’n merkwaardige vlak van openbare spreekkuns en kritiese denke ten toon gestel, met deeglik standpunte wat deeglik geargumenteer is en selfversekerde optredes. Ons sien met groot entoesiasme uit na hoe hierdie kompetisie verder sal uitbrei en jong debatteerders sal help om hul potensiaal ten volle te ontwikkel,” sluit Müller af.

Soortgelyke plasings