Nuwe Psira-regulasies kan sekuriteit by gevangenisse in gedrang bring – AfriForum
Klankgreep: Jacques Broodryk (Afrikaans)
Soundbite: Jacques Broodryk (English)
AfriForum het ’n formele versoek ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting (PAIA) by die departement van Korrektiewe Dienste ingedien waarin volle deursigtigheid geëis word oor die interne risikobeoordelings of beleidsdokumente wat evalueer hoe die voorgestelde wysigings aan die regulasies ingevolge die Wet op die Regulering van die Privaat Sekuriteitsbedryf (Psira) die veiligheid en stabiliteit van gevangenisse kan beïnvloed.
Hierdie wysigings, as dit deurgevoer word, kan die bevoegdhede en funksionaliteit van privaat sekuriteitsmaatskappye ernstig beperk – selfs in hoë risiko-omgewings soos korrektiewe fasiliteite. AfriForum eis antwoorde van die departement oor die mate waarin korrektiewe fasiliteite op privaat sekuriteitsmaatskappye staatmaak en hoe die beperkings, soos voorgestel deur wysigings aan die regulasies, bestuur sal word in omgewings waar sekuriteit ononderhandelbaar is.
AfriForum lig in sy versoek spesifiek die Mangaung-gevangenis uit as voorbeeld van ’n fasiliteit wat deur ’n privaat sekuriteitsmaatskappy bestuur word. Privaat veiligheidswagte speel hier ’n sentrale rol in die daaglikse bedrywighede en bestuur van een van Suid-Afrika se grootste gevangenisse.
“Dit is absoluut belaglik dat die regering dit sal oorweeg om privaat veiligheidsbeamptes basies te ontwapen, terwyl die staat van hulle afhanklik is om korrektiewe fasiliteite te help bestuur en beveilig. As hierdie wysigings aanvaar word, kan bewaarders wetlik verbied word om vuurwapens of minder dodelike toestelle te dra in fasiliteite wat van die land se gevaarlikste misdadigers huisves,” sê Jacques Broodryk, AfriForum se hoofwoordvoerder van Gemeenskapsveiligheid.
Die implikasies is verbysterend en AfriForum glo dat aandag gevestig moet word op die kommerwekkende aspekte van die voorgestelde regulasies, soos:
- Ontwapening op grond van verdenking: Sekuriteitsmaatskappye verbied om vuurwapens aan hul beamptes uit te reik indien die maatskappy ondersoek word, ongeag of enige formele klagte gelê is.
- Verbod op vuurwapens in openbare ruimtes: Gewapende beamptes se teenwoordigheid in openbare ruimtes verbied, wat die buiterand van gevangenisse, vervoerkorridors en howe kan insluit.
- Onduidelike beperkings op ammunisie: Die besit van ammunisie tot ’n “redelike” hoeveelheid beperk, maar nie duidelikheid oor die voorgestelde perke verskaf nie, wat lewens in gevaar kan stel tydens onluste of ontsnappingspogings.
- Onhaalbare vereistes vir die nasporing van vuurwapens: Opsporingstegnologie op sekuriteitsmaatskappye se vuurwapens vereis – ’n standaard wat nie eens van die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) of die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) verwag word nie.
- Verbod op minder dodelike toestelle: Die gebruik van minder dodelike toestelle soos rubberkoeëls en waterkanonne verbied, wat noodsaaklik is vir die bestuur van gewelddadigheid en onluste onder gevangenes.
“As die regering glo dat hierdie beperkings lewensvatbaar is, dan moet daar verduidelik word hoe sommige gevangenisse daaronder sal voortgaan om te funksioneer. As privaat sekuriteitswagte nie gewapen kan word of minder dodelike toestelle kan gebruik nie, moet die vraag afgevra word: Wie presies gaan onluste in gevangenisse help beheer? Die voorgestelde wysigings tot die regulasies is nie net onprakties nie, dit is gevaarlik en pure waansin,” voeg Broodryk by.
AfriForum sal voortgaan om die voorgestelde wysigings aan die regulasies teen te staan en doen ’n beroep op die publiek om óók die privaat sekuriteitsbedryf te help beskerm – ’n bedryf wat van kritieke belang is vir die handhawing van burgers se veiligheid. Die spertyd vir openbare kommentaar is 25 April 2025. Voeg jou naam hier by en beskerm ons beskermers.beskermers.