Nuwe Oos-Londen-takbestuur wil volhoubare groei in gemeenskap teweegbring
Die bestuur van AfriForum se Oos-Londen-tak het onlangs geherorganiseer sodat al die tak se planne en projekte vir dié stad so gou moontlik geïmplementeer kan word.
Die nuwe bestuur bestaan uit Johan Jansen (voorsitter), Ian Hein (ondervoorsitter), Eden Kriel (tesourier), Jeanette Sandler (sekretaresse), Bennie van der Byl (plaaslikeregeringsake), Daniel Gresse (omgewingsake), Martin Boersema (jeug), JP Els (gemeenskapsveiligheid), Ed Rathbone (toerisme) en Pierre Theron (sosiale media).
“Die bestuur is baie trots daarop om deel te wees van AfriForum se pogings om die gemeenskap vry, veilig en voorspoedig te maak,” sê Johan Jansen, voorsitter van AfriForum se Oos-Londen-tak. “Elkeen is gereed om hul take ten volle aan te pak en om talle selfdoen-projekte van stapel te stuur om die gemeenskap meer weerbaar teen gebrekkige dienslewering te maak.”
Volgens Louis van der Vyver, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Oos-Kaap, is daar opwindende projekte wat voorlê, insluitend ’n projek wat sal toesien dat vier ton teer gebruik word om slaggate te herstel. Die tak beoog ook om projekte te doen wat Oos-Londen weer in ’n gewilde toeristebestemming sal omskep.
“Dit is werklik ’n voorreg om saam met ywerige taklede soos hierdie te werk. Ons kan nie genoeg dankie sê vir die onbaatsugtige wyse waarop hulle die gemeenskap dien nie.”