|

Nelspruit-tak kap na swak dienslewering, maar sê dit kan saam gepak word

Nuwe AfriForum-portaal kan help

Die voortdurende versuim om na behore diensleweringskwessies in Mbombela op te klaar, het AfriForum se Nelspruit-tak genoop om die Mbombela Plaaslike Munisipaliteit te dwing om sy verpligtinge teenoor die gemeenskap na te kom. Die burgerregteorganisasie het onlangs ’n portaal geskep waarop inwoners enige besware rakende gebrekkige dienslewering, slaggate, waterlekkasies en vullis direk aan AfriForum kan rapporteer. Hierdie portaal sal volgehoue druk op die munisipaliteit plaas om diensleweringskwessies te pak en AfriForum in staat stel om bystand, waar moontlik, te bied.

AfriForum het vroeër vandeesmaand ’n brief aan dié munisipaliteit gestuur oor swak dienslewering nadat daar reeds in Januarie ’n soortgelyke skrywe gestuur is. Die munisipaliteit het egter geen terugvoer op die briewe verskaf nie, ondanks die feit dat AfriForum se Nelspruit-tak in albei briewe benadruk het dat hy met die munisipaliteit hande kan vat om die kwessies te pak.

“Die munisipale bestuurder, Wiseman Khumalo, se onlangse uitlatings oor die munisipaliteit se oënskynlike pogings om dienslewering te verbeter, beteken bittermin as hy nie eens op ’n skrywe kan reageer wat ’n uitnodiging om hulp bevat nie. Dít is ’n duidelike teken van die munisipaliteit se onwilligheid om saam te werk om volhoubare oplossings te vind vir die probleme waarmee inwoners daagliks sukkel,” sê Arlo van Heerden, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Laeveld.

“Die Mbombela Plaaslike Munisipaliteit moet aanvaar dat hy gemeenskapsorganisasies se hulp benodig om dienslewering in Mbombela te verbeter, aangesien hulle nie self daarin geslaag het om dit doeltreffend te bestuur nie. Sou daar met ’n werkbare plan vorendag gekom word vir gehalte dienslewering, is AfriForum in ’n posisie om broodnodige ondersteuning te bied,” voeg hy by.

AfriForum dring nou aan op ’n dringende vergadering met die munisipaliteit om inwoners se bekommernisse te laat hoor. Hierdie vergadering moet sonder verdere vertraging gereël word. Versuim om dit te doen sal AfriForum noop om hierdie saak verder te voer deur alle beskikbare wetlike en openbare kanale.

Die inwoners van Mbombela word intussen aangemoedig om gebrekkige herstelwerk of dienslewering aan te meld sodat die probleme so gou moontlik gepak kan word. Rapporteer diensleweringsprobleme hier.

AfriForum se Nelspruit-tak sal voortgaan om druk op die munisipaliteit te plaas. Dit is tyd dat die munisipaliteit aanspreeklik gehou word en werklik saamwerk om Mbombela ’n beter plek vir sy inwoners te maak.

Soortgelyke plasings