|

Nelspruit-buurtspan wys krag van goeie samewerking

AfriForum se Nelspruit-buurtspan het op Vrydag, 14 Maart, in samewerking met lede van die plaaslike gemeenskap, ’n skoonmaak- en grassnyaksie in die parke in Enterprise- en Melkwegstraat uitgevoer. Hierdie aksie is ondersteun deur gemeenskapslede wat vier werkers beskikbaar gestel het, asook die Mbombela Plaaslike Munisipaliteit wat petrol vir die buurtspan se masjinerie en 20 swart sakke vir rommelverwydering voorsien het.

Tydens dié aksie is sowat 2 ha se gras gesny en 12 sakke rommel verwyder.

AfriForum werk tans in noue samewerking met Sanley van der Merwe, die plaaslike raadslid van Wyk 17, en  bedank haar vir die reëlings rondom hierdie suksesvolle projek. Haar bereidwilligheid om met die gemeenskap en organisasies soos AfriForum saam te werk, speel ’n sleutelrol in die sukses van inisiatiewe soos dié.

Hierdie projek het ook gedien as ’n toetslopie om te bepaal hoe AfriForum, die gemeenskap en die munisipaliteit in die toekoms meer gereeld kan saamwerk om projekte suksesvol aan te pak. AfriForum is tans in gesprek met die munisipaliteit om ’n meer gestruktureerde vennootskap te vestig vir gereelde en volhoubare aksies.

Hoewel AfriForum glo dat dit die munisipaliteit se primêre verantwoordelikheid is om basiese dienste te lewer, wat die onderhoud van parke insluit, is daar ’n tekort aan vaardighede en toerusting by munisipaliteite om hierdie dienste te kan lewer. Hierdie tekortkominge dra ongelukkig by tot swak dienslewering, wat al hoe meer frustrasie en ongelukkigheid in die gemeenskap veroorsaak.

Volgens Arlo van Heerden, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Laeveld, is hulle standpunt duidelik: “Die munisipaliteit moet sy verpligtinge teenoor die gemeenskap nakom, veral ten opsigte van dienslewering wat funksioneel en volhoubaar gelewer word. AfriForum is egter bereid om praktiese oplossings te help uitvoer, indien die munisipaliteit bereid is om hulpbronne beskikbaar te stel – soos in hierdie geval – is ons reg om hande te vat en saam met hulle te werk aan projekte wat werklik ‘n verskil maak.

AfriForum glo in proaktiewe gemeenskapsbetrokkenheid. Ons hoop dat hierdie suksesvolle samewerking met die munisipaliteit ‘n goeie voorbeeld sal wees van hoe positiewe vennootskappe kan lei tot sigbare verbeterings in ons omgewing.

AfriForum se Nelspruit-tak nooi lede van die publiek uit om deel te word van die tak se projekte om sodoende ook ’n verskil te maak in dié dorp.

Soortgelyke plasings