Moreletaspruit: Riool loop vry terwyl Tshwane-metro aksieloos bly
AfriForum eis dringende ingryping van die Tshwane Metropolitaanse Munisipaliteit in die voortdurende ekologiese ramp wat in die Moreletaspruit ontstaan weens ’n rioollekkasie in Murryfield.
Die lekkasie is reeds deur die plaaslike wyksraadslid in Desember 2024 aan die metro gerapporteer nadat ’n rioolpyp naby die spruit in duie gestort het. Ten spyte van talle beloftes wat die metro aan die gemeenskap gemaak het, duur die besoedeling tot vandag toe nog voort. Vir meer as vier maande vloei rou riool daagliks in ’n belangrike waterloop, sonder enige sigbare herstelwerk van die Tshwane-metro se kant af.
“Die metro se traak-my-nie-agtige houding is ’n skending van die gemeenskap se reg op ’n veilige en gesonde omgewing. Ons is nie bereid om net toe te kyk terwyl basiese munisipale dienste ineenstort en ons omgewing vernietig word nie,” sê Arno Roodt, AfriForum se distrikskoördineerder vir Pretoria-Suid.
AfriForum beklemtoon dat die metro se versuim om die kwessie met erns aan te roer deel vorm van ’n groter tendens van sistemiese verval en onvermoë in munisipale dienslewering. Die burgerregteorganisasie hou voor dat die Tshwane-metro se gebrek aan tydige reaksie ’n dieper krisis van onverantwoordbaarheid en swak infrastruktuurbestuur getuig wat endemies tot plaaslike regering is en gevolglik gemeenskappe regoor die land raak.
Ten spyte van die feit dat die metro reeds in Maart 2025 erken het dat die rioolstorting in ’n krisis ontaard het, het die metro geen konkrete herstelwerk geïmplementeer nie. AfriForum beskou hierdie versuim as ’n direkte bedreiging vir die Moreletaspruit se ekosisteem, openbare gesondheid en die gemeenskap se vertroue in plaaslike owerhede.
“Indien die owerhede nie die wil of vermoë het om basiese instandhouding te doen nie, sal AfriForum en die gemeenskap dit self moet aanpak. Hierdie is ons woonbuurt, ons water en ons gesondheid – ons staan nie terug nie,” voeg Roodt by.
AfriForum beskik oor verskeie aksie- en buurtspanne wat reeds ’n reeks munisipale funksies – van die herstel van slaggate tot die regmaak van lekkasies – aanpak. Die organisasie hou voor dat indien die metro nie in staat is om hulle pligte na te kom nie, hulle vir hulp van die siviele sektor en gemeenskappe moet vra.
“Ons staan reg om te help. Die metro moet egter hulle trots sluk en ons toelaat om in te gryp waar hulle tekortskiet. Dit is in die beste belang van die inwoners van Pretoria,” beklemtoon Roodt.
AfriForum onderneem om alternatiewe oplossings vir die lekkasie te identifiseer en sal regstappe teen die Metro oorweeg indien daar nie binne die volgende week dringend opgetree word nie.
AfriForum doen ’n beroep op die inwoners van Pretoria-Oos en omliggende areas om vandag nog betrokke te raak by die organisasie en saam teen die verval te veg. Besoek www.wordlid.co.za vir meer inligting.