Moreletapark-buurtwag help brand by Rietvlei-natuurreservaat blus
AfriForum se Moreletapark-buurtwag het weens sy tydige reaksie op noodgevalle daarin geslaag om ’n veldbrand by die Rietvlei-natuurreservaat te bestry en te verhoed dat dit verder versprei.
Buurtwaglede is Sondag 24 Augustus om 15:03 ontbied nadat ’n brand by die plaaslike natuurreservaat ontstaan het. AfriForum het onmiddellik sy brandwaentjie beskikbaar gestel, wat teen 15:45 deur die betrokke buurtwaglede ingespan is. Die lede het saam met ’n veldwagter van die reservaat begin om die brand te monitor en te bestry. Kort daarna het nóg buurtwaglede aangesluit en die eerste vuurlyn onder beheer gebring.
Die span is later na ’n ander vuurlyn naby die reservaat se koffiewinkel ontplooi, waar die Tshwane-brandweer en veldwagters die koördinering van hulpbronne behartig het. Vanaf 19:00 het die buurtwag, in samewerking met die Welbekend-brandbestrydingsvereniging, die Bassewa-gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) en die Tshwane-brandweer voorbrande gemaak om te keer dat die veldbrand verder versprei. Teen 21:30 was die brand onder beheer.
“Hierdie voorval wys weereens dat samewerking tussen gemeenskapsorganisasies, plaaslike verenigings en owerhede noodsaaklik is om brande en ander noodsituasies vinnig en doeltreffend te hanteer,” sê Dewald la Grange, voorsitter van AfriForum se Moreletapark-buurtwag. “Ons is trots op ons vrywilligers wat bereid is om tyd, energie en hulpbronne op te offer om hul gemeenskap veilig te hou.”
AfriForum bedank die betrokke personeel by die reservaat, die plaaslike brandvereniging, GPF en die Tshwane-brandweer vir hul samewerking.
Klik hier om by AfriForum se plaaslike takke betrokke te raak.

