Met veldbrandseisoen op hande moet regeringsfere verpligtinge nakom, sê AfriForum

Klankgreep: Tarien Cooks (Afrikaans)

Soundbite: Tarien Cooks (English)

AfriForum waarsku dat die komende veldbrandseisoen ’n ernstige risiko vir gemeenskappe, infrastruktuur, vee en selfs menselewens inhou, veral weens die welige plantegroei wat deur onlangse reën veroorsaak is. Die burgerregteorganisasie doen ’n beroep op plaaslike en provinsiale regeringsfere om dringend hulle verpligtinge ingevolge die Wet op Veld- en Bosbrande 101 van 1998 na te kom – spesifiek met betrekking tot die maak van brandstroke.

Volgens dié wet is dit verpligtend vir grondeienaars, insluitend staatsinstellings, om risiko’s te beperk deur voorkomende maatreëls in te stel. Dit sluit in om brandstroke te maak waar die risiko’s vir veldbrande hoog is. Tog word hierdie verpligting dikwels geïgnoreer, veral deur plaaslike regerings en munisipaliteite, wat gemeenskappe en boere blootstel aan onbeheerbare brande wat jaarliks miljoene rande se skade aanrig.

“Ons is besig om op ’n ramp af te stuur as hierdie tekort aan toerusting en voorbereiding nie dringend aangespreek word nie. Elke jaar sien ons dat veldbrande vinniger versprei, meer intens brand en groter skade aanrig. Sonder voldoende toerusting, beplanning en voorbereiding aan die kant van die regering word daar op gemeenskapsorganisasies staatgemaak om die veldbrande te blus,” sê Tarien Cooks, rampbestuurspesialis by AfriForum.

Vroeër vanjaar is daar tydens verskeie ondersoeke in Gauteng uitgewys dat die metro’s in dié provinsie nie oor voldoende of gepaste voertuie beskik om veldbrande effektief te bestry nie. In talle gevalle is daar glad nie voertuie beskikbaar nie of dié wat wel beskikbaar is, is ontwerp vir stedelike brandbestryding en nie geskik vir landelike terreine en bosgebiede nie. Gevolglik moet AfriForum-takke en plaaslike brandbeskermingsverenigings (BBV’s) telkens inspring om brande te help beheer – ten spyte daarvan dat dit nie hul primêre verantwoordelikheid is nie.

AfriForum doen ’n dringende beroep op alle regeringsfere om hul risiko-assesserings te voltooi en brandstroke te maak soos deur die wet vereis. Die departement van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake, wat verantwoordelik is vir brandweerdienste in Suid-Afrika, moet druk toe pas dat die tekort aan brandbestrydingstoerusting dringend in die nuwe begrotings van provinsiale en plaaslike regerings toegewys word.

Gemeenskappe word aangemoedig om by plaaslike AfriForum-takke en brandbeskermingsverenigings aan te sluit om samewerking en paraatheid te verseker. Besoek www.wordlid.co.za vir meer inligting.

Soortgelyke plasings