|

Meer as 12 000 neem standpunt in teen nuwe Psira-regulasies – AfriForum teken beswaar aan

Klankgreep: Jacques Broodryk (Afrikaans)

Soundbite: Jacques Broodryk (English)

AfriForum het vandag skriftelike kommentaar ingedien wat die voorgestelde wysigings aan die regulasies ingevolge die Wet op die Regulering van die Private Sekuriteitsbedryf (Psira) teenstaan. Hiermee saam is die handtekeninge van meer as 12 000 burgers wat formeel beswaar maak teen die voorgestelde wysigings aan die regulasies.

“Hierdie vurige reaksie, in so ’n kort tydjie, beklemtoon hoe bekommerd die publiek is oor die ernstige bedreiging wat hierdie wysigings vir openbare veiligheid inhou. Die aanvaarding van hierdie wysigings sal die privaat sekuriteitsektor effektief ontwapen en burgers kwesbaar laat te midde van toenemende misdaad,” sê Jacques Broodryk, AfriForum se hoofwoordvoerder vir Gemeenskapsveiligheid.

“Hierdie wysigings sal nie die land veiliger maak nie, maar gemeenskappe selfs meer blootstel. Om dié sektor, wat miljoene eiendomme, ondernemings, skole, hospitale en selfs staatsinstellings beskerm, te ontwapen is nie regulering nie, dis sabotasie.”

AfriForum maan dat hierdie regulasies vernietigende gevolge sal hê, nie net vir sekuriteitsmaatskappye en die meer as 580 000 werknemers in die sektor nie, maar vir gewone burgers wat op privaat sekuriteit staatmaak wanneer tradisionele polisiëring misluk.

AfriForum het reeds alarm gemaak oor hoe hierdie regulasies korrektiewe fasiliteite – waarvan baie op privaat sekuriteit staatmaak – kan beïnvloed. Die burgerregteorganisasie het onlangs ’n formele versoek ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting (PAIA) by die departement van Korrektiewe Dienste ingedien om duidelikheid te vra oor hoe hierdie regulasies bedrywighede by fasiliteite soos die Mangaung-gevangenis, wat deur privaat kontrakteurs bestuur word, sal beïnvloed.

“Dit is verregaande dat die regering op privaat sekuriteitsdienste sal staatmaak om polisiestasies en gevangenisse te beveilig, maar dan poog om daardie einste beamptes effektief te ontwapen,” sluit Broodryk af.

Soortgelyke plasings