|

Matriekslaagsyfer onakkuraat weens vroeë skoolverlatingskoers, terwyl Bela verdere skadu oor toekoms gooi, sê AfriForum

AfriForum wens almal wat in 2024 matriek geslaag het, van harte geluk en bedank die onderwysers wat dit ten spyte van vele uitdagings in die onderwyssektor met hulle toewyding en harde werk moontlik gemaak het.

Terselfdertyd spreek dié organisasie ook kommer uit oor die matriekslaagsyfer wat pas aangekondig is. Oorsigtelik beskou, klink dit na ’n uitnemende prestasie, maar AfriForum is bekommerd oor die groep leerlinge wat uit die skoolstelsel verdwyn het voordat hulle selfs die matriekeksamen kon aflê. Volgens die Departement van Basiese Onderwys se tegniese verslag is die hoeveelheid matrikulante wat die eksamen geskryf het, 36% minder as die aantal wat in 2013 in graad 1 was.

Hierdie tendens word jaarliks gesien en bewys dat die verlaging van slaagvereistes leerders nie oortuig om aan te hou om tot matriek skool te gaan nie. Ongelukkig werk dit egter nadelig op die indiensneembaarheid van ’n groot aantal matrikulante in. Die departement se versekering dat die 36% uitvalkoers “normaal” is in vergeleke met ander lande soortgelyk aan Suid-Afrika, stel nie gerus wanneer na vergelykende onderwyspeilings se bevindings gekyk word nie.

Volgens Alana Bailey, AfriForum se hoof van Kultuursake, bly die Departement van Basiese Onderwys se prestasie en vermoë om te verbeter ’n knelpunt. “Internasionale prestasiemetings soos die Progress in International Reading Literacy Study (Pirls) en die 2024 Trends in International Mathematics and Science Study (Timss) se bevindings bewys dat die meerderheid Suid-Afrikaanse skole te swak presteer om hoegenaamd internasionaal kompeterend te wees. Dit sal in die toekoms groot uitdagings vir die land se ekonomie en maatskaplike stabiliteit skep.”

Bailey het na die omstrede Wysigingswet op Wette op Basiese Onderwys (Bela) verwys en genoem dat die inhoud daarvan nie hierdie wanprestasie die hoof gaan bied nie. “Dit hou juis ’n bedreiging in vir moedertaalonderrig, bevat vaaghede oor dissipline in skole en laai ’n groter administratiewe las op onderwysers,” meen sy.

Met betrekking tot die uitgelekte matriekuitslae spreek AfriForum verdere kommer uit. “Dat die uitslae kon lek en finansiële voordeel boonop uit goedgelowige matrikulante geput is, is onaanvaarbaar. AfriForum verwelkom dat die Valke die ondersoek lei en hoop dat die aanspreeklikes aan die pen sal ry,” sluit Bailey af.

Soortgelyke plasings