Lesufi se onverdraagsaamheid teenoor korrupsie slegs lippediens
Dit is nou al sewe maande sedert AfriForum se privaatvervolgingseenheid onthul het dat die Gautengse premier, Panyaza Lesufi, deur fluitjieblasers by die provinsiale wetgewer daarvan beskuldig word dat hy grootskaalse korrupsie, geldwassery en bedrog van miljoene rande wat aan die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling geallokeer was, probeer toesmeer het. Lesufi het steeds nie op die privaatvervolgingseenheid se korrespondensie oor hierdie bewerings reageer of opgetree teen die kwessies wat in die skrywe uitgelig is nie, ten spyte daarvan dat hy voorheen in die openbaar enige bewerings van korrupsie ontken het en beweer het dat hy ferm teen korrupsie gekant is.
Die privaatvervolgingseenheid het nou die Gautengse wetgewer genader en die speaker gemaan om haar grondwetlike verpligting na te kom om as toesighouer oor die provinsiale uitvoerende outoriteit, wat die premier insluit, op te tree. Die privaatvervolgingseenheid het voorheen versoek dat Lesufi moet bevestig of ’n strafregtelike klag teen die departementshoof van die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling aanhangig gemaak is, die redes vir die herinstelling van amptenare wat in ernstige gevalle van korrupsie en bedrog geïmpliseer is, en of die geïmpliseerde diensverskaffers geswartlys is. Lesufi het versuim om op die brief te reageer.
Adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se privaatvervolgingseenheid, sê dat dit blyk of Lesufi ’n afkeer toon om aanspreeklikheid te aanvaar. Volgens Nel blyk dit dat Lesufi en die LUR vir Maatskaplike Ontwikkeling se versuim om op te tree ’n blatante en gesamentlike poging is om die beweerde misdrywe wat deur die forensiese ondersoekers onthul is toe te smeer, die geïmpliseerde amptenare te beskerm en daardeur voortgaan om homself en sy kantoor blind te hou vir die plundery van openbare fondse.
Volgens Barry Bateman, woordvoerder vir die privaatvervolgingseenheid, is Lesufi se optrede net al te bekend. “Ons het gewoond geraak aan die regering se oëverblindery wanneer dit kom by aantygings van bedrog en korrupsie. Die regering is vinnig om ’n ondersoek te beveel om die illusie te skep dat hulle doen wat reg is, terwyl die realiteit is dat hulle bloot tyd probeer koop voordat hulle uiteindelik die verdoemende bevindinge van die forensiese ondersoeke ignoreer of hersien. Dit mislei die publiek om dan te glo dat die regering wel iets aan korrupsie probeer doen.
“Korrupsie bly een van die privaatvervolgingseenheid se strategiese fokus areas en ons sal binnekort bekendmaak watter stappe gedoen gaan word teen politici wat blyk immuun te wees teen vervolging. Die dae van valse beloftes om aanspreeklikheid te vermy sal nou tot ’n einde kom,” sê Bateman.
Die speaker van die wetgewer en die adjunk speaker het ontvangs van die skrywe erken.